Hoe gemaak met…Februarie in my tuin

Hoe gemaak met…Februarie in my tuin

Ja, die eerste maand van 2021 lê op sy rug en ons is al op pad na Februarie. Dit is ook die maand van die jaar waar ons as tuiniers bedag moet wees op die welstand van ons tuine, want dit is baie warm en droog.
Ek lees in DIE TUINIER van FEBRUARIE die volgende waarheid aangaande tuinmaak: “Daar was ‘n verskuiwing na waar ons nie meer plante bloot net vir die estetiese in ons huise inbring nie.
Tuinmaak het ‘n bewustheidsbeweging aan die gang gesit – ‘n beweging wat deur middel van grond kalmte en skuilte meebring.
As tuiniers glo ons dat daar ‘n verbintenis tussen die natuur en ons algemene welsyn is.
As jy dus nodig het om te ontspan, is dit tyd om jou hande vuil te maak omdat tuinmaak die begin van beter liggaamlike en emosionele gesondheid is.
Die tuinmaakfilosofie is daarop gerig om vir mense vreugde en vir plante gelukkige huise te gee. Kom ons maak saam tuin!
Hierdie tyd van die jaar moet ons nog veral op die uitkyk wees vir ‘n paar peste en plae.
Met die warm weer kan swamsiektes soos WITROES, SWARTVLEK & ROES nog gereeld sy kop uitsteek.
Daar is gelukkig heelwat produkte wat ons kan help om dit onder beheer te bring en verdere verspreiding te voorkom.
Probeer ook om jou plante nie laat in die aand nat te maak nie, dit kan net die siektes aanhelp, probeer vroegoggend of vroeg-namiddag nat te maak, dan kan die plante nog afdroog.
Nog ‘n plaag wat ook huidiglik baie bedrywig is in ons tuine, is die SNYBEKKEWER of ook “wingerdkalander” genoem.
Die plante se blare is vol klein merkies gevreet, veral op die rante van die blare. Hulle is lief vir ons sonrosies (echeveria’s), clivias, rose, asook verskeie ander plante en struike.
Hulle kom snags uit die grond uit en kan nogal vinnig groot verwoesting saai.
Gelukkig is daar goeie insekmiddels beskikbaar vir die klein kalant.
Met die warm en droë weer sal die ROOISPINNEKOP plantmyte ook nie vir ons laat rus nie, so ook nie die WITVLIEGIES nie. Ek weet ek het in ons vorige artikel van 25/11/2020 taamlik breedvoerig hieroor gesels, maar ek kry nog elke dag navrae in verband met die plae.
Ek moet net weer beklemtoon, bring ‘n voorbeeld saam as u kom navraag doen (plaas dit in ‘n verseëlde houer asseblief), maar bring ook ‘n lysie saam met watter produkte jy alreeds by die huis het, dit maak dit net makliker om vir jou die korrekte raad te gee.
Laastens wil ek graag ernstig praat oor die natmaak van ons tuine.
Sommige tuiniers dink dat as hulle vinnig deur die tuin gehardloop het met die tuinslang en die plante se blare sopnat gespuit het, dan is die plante nat genoeg.
Ek kry elke dag die vraag; “Hoe gereeld moet ek my plante nat maak?” of “Hoe baie water moet ek my plante, veral die in houers, gee?”
By plante in houers (ook die potplante binnenshuis) is die goue reël, voel met jou vinger hoe nat of klam die grond is.
Die Engelse het ‘n goeie gesegde; “You do the knuckle test”.
Dit wil sê, jy steek jou vinger tot by die eerste lit in die grond en voel. Indien dit nog goed klam is, gaan verby, maar indien dit droog is, gooi ORDENTLIK nat.
Indien die houerplant alreeds verlep is, is daar ‘n beter metode om dit deeglik nat te maak. Plaas die plant met houer en al (indien moontlik) in ‘n groter kom of emmer en gooi dit so nat dat die hele plantpot bedek is met water, laat dit so staan vir ± 30 minute, haal uit en laat eers deeglik afdrup, plaas dan weer op sy staanplek in sy drupbak.
Buite in die tuin is die modus operandi min of meer dieselfde.
Maak seker dat jou tuinslang ‘n spuitkop vooraan het wat sagte water op jou plante en grond laat val. Indien moontlik spuit plante van bo-af nat sodat die water deeglik in die grond kan intrek en spuit totdat die water staan om die plant. Dit gaan niks beteken as die blare blinknat is, maar die grond is nog nie deeglik nat nie.
‘n Nog beter metode is natuurlik ‘n deeglike besproeiingstelsel wat die water saggies en eweredig versprei.
‘n Ander opsie is ‘n klein “skilpad” mis-sproeier wat jy strategies plaas, sodat die water op al die gewenste plekke kan val (dit sluit grasperke in). Laat dit vir ten minste 15 tot 20 minute per keer spuit, dan is jou grond goed en diep nat, dan kan die plante dalk vir ‘n dag of wat oorleef.
Onthou: Koop plaaslik en sorg so vir jou eie gemeenskap.
Tuingroete tot 27 Februarie 2021.
George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*