Hoe gemaak met my tuin in Maart

Hoe gemaak met my tuin in Maart

Die somersdae is nog baie warm, maar die dae begin alreeds krimp en een van die dae is dit herfs, vanaf 21 Maart wanneer die dag en nag ewe lank is.
Ek kry baie gereeld vrae oor probleme in ons tuine.

Die eerste is tuiniers wat sukkel om hul grasperk mooi en gesond te hou.
Die grootste probleem huidiglik is GRASPERK-RUSPERS, vanaf November tot omtrent einde Maart is die kalante baie bedrywig.

Daardie vaal, oneweredige, dooie kolle in jou grasperk is heel moontlik te wyte aan hulle bedrywighede. Om seker te maak dat dit wel jou probleem is, gooi ‘n nat sak of handdoek oornag op die grasperk, en lig dit die volgende oggend baie vroeg op en jy sal die ruspers sien. Om dit te behandel kry ons ‘n paar produkte: KARBASPRAY, KOINOR, 4:1:1 MET GIFSTOF en CYPER (Sipermetrien). Maak aan volgens voorskrif en deurdrenk die kolle laataand, want die peste kom snags na die oppervlak om hul vreetwerk te doen. Nog ‘n kalant wat kan probleme gee is WATERKRIEKE. Behandel die probleem ook soos hierbo met die volgende produkte: LAWN PROTECTOR of MERIDIAN. Om jou grasperk mooi groen te hou, is daar drie moet doen dinge – GENOEG WATER, GENOEG VOEDING, GEREELD SNY (selfs tot 2 maal per week), moet dit net nie in baie warm weer te kort sny nie, die wortels en stingels sal SONBRAND opdoen.
Die tweede probleem is tuiniers wat kla oor miswurms (grubs, dik vet, wit ruspers) in hul tuin, maar veral in potte en houers. Nou waar kom die kalante vandaan?

Dit is TORRE wat hul eiers in die lekker vrugbare & komposryke grond kom lê. Dan broei die eiers uit en die miswurms geniet hulself in die komposryke medium en doen ook skade aan die wortels van jou plante. Daar is ook produkte om met hulle af te reken: PLANT CARE en ook MERIDIAN.
Meng volgens voorskrif en deurdrenk die grond rondom jou plante, pasop net vir eetbare gewasse, want PLANT CARE is ‘n sistemiese gif.
Nou eers genoeg van die probleme. Een van die dae is dit alweer tyd om ons blombolle vir winter- en lenteblomme in die grond te kry.
Moet net nie te vroeg begin plant nie, want die grond moet eers koel word, wanneer die grond te warm is, vrot die bolle en knolle.

Hier is ‘n lys van variëteite wat eersdaags beskikbaar sal wees – ANEMONE, FREESIAS, RANONKELS, WATSONIAS, HOLLANDSE IRISSE, ens. So ‘n rukkie na hulle arriveer die AFFODILLE (Daffodils) & LEUCOJUM (Sneeuvlokkies). Lees die instruksies op die verpakkings wat sê hoe diep en hoe ver uit mekaar jy jou bolle moet plant, of dit volson, halfskadu of skaduwee wil hê. Bolle kan met groot genot en sukses in houers gekweek word.
Moet nie die fout maak om jou bolle in houers van die begin af binnenshuis te kweek nie, hulle sal langbeen word en omval sodra dit effens lengte kry, veral wanneer die blomme verskyn en hul koppe te swaar word.
Groei dit buite in die omstandighede soos wat die verpakking voorskryf, en wanneer dit in blom kom, kan jy dit vir jou in die huis vir kort periodes gebruik as versiering. Om die blombolle te herwin nadat dit klaar geblom het, knip net die dooie blomsteel uit en versorg die plant nog steeds met liefde totdat die blare vanself begin doodgaan, dan kan jy dit ook afknip en die bolle in die potte droog, of die bolle uithaal uit die grond uit en in ‘n lemoensakkie (of iets soortgelyks) droog blare in jou tuinhuisie of tuingereedskap, stoorplek, om volgende plantseisoen weer te plant.
Onthou om terwyl die bolplante nog blare aan het dit steeds gereeld voeding te gee, sodat die bolle kan energie opbou vir die volgende blomseisoen.

ONTHOU: stuur vir ons jul tuinbou vrae na info@malmesburykwekery.co.za
Sterkte met die tuinmaak, ons gesels weer 24 Maart 2021.
George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*