Hoe gemaak met Oktober in my tuin

Hoe gemaak met Oktober in my tuin

Niemand sal met my stry nie: Oktober-maand is nou maar die mooiste maand in ons tuine. Alles wys nuwe groei en byna elke plant is vol blomme. Mooi bly maar mooi – alle eer aan ons Skepper!
Verlede Oktober het ons gesels oor snoeiwerk in jou tuin. Moenie vergeet om gereeld die snoeiskêr byderhand te hou vir daardie baie noodsaaklike vormwerk aan jou struike en bome nie.
Onthou: Daar is ‘n verskeidenheid blombolle wat nog steeds geplant kan word. Vir die somertuin is die volgende soorte nou beskikbaar:
Amaryllis – met hul groot blomme, op lang stele, ook nuwe dwergsoorte beskikbaar.
Zantedeschia – dit is nou ál die gekleurde variëteite van ons aronskelke en baie mooi.
Let wel: Minder water vir hierdie somerblommende soorte
Dahlia – Hier is ook ‘n paar soorte in ‘n verskeidenheid kleure beskikbaar, van die dwergsoorte tot die reusagtige “dinnerplate” variëteite.
Gladiolus – Swaardlelies, soos ons dit ken. Hul pragtige kleure, met lang ritse wat uiters geskik is vir snyblomme, kan in sarsies geplant word, want dit blom ongeveer 100 dae nadat jy dit geplant het.
Indien jy ‘n nuwe bedding in jou tuin aanplant, onthou die voorbereiding is 100 maal belangriker as die uiteindelike aanplant van blomme en struike.
Alle ou plante en struike moet DEEGLIK verwyder word. Dan moet daar ruim kompos (ongeveer een sak van 20 dm kubiek per vierkante meter) plus superfosfaat en beenmeel ingewerk word.
Daar kan ook “All purpose” pille van Atlantic Fertilisers ingewerk word om die nuwe plante daardie ekstra voorsprong te gee. Indien jy inheemse fynbos, proteas, speldekussings en tolbosse gaan plant, moet jy net kompos gebruik, want hulle hou nie van FOSFAAT in hulle grond nie.
Nadat al hierdie voorbereiding gedoen is, kan jy begin met die plantproses. Druk plante stewig in die grond vas, stut waar nodig en gooi dit dadelik nat, so ook die eerste maande daarna.
ONTHOU: ‘n Plant kan sogenaamd waterwys wees, maar eers drie tot ses maande nadat dit geplant is.
Geniet die lente en die tuinmaak.
Groetnis tot volgende keer, ons gesels weer 27 Oktober.

George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*