Hoe gemaak met snoeityd in my tuin

Hoe gemaak met snoeityd in my tuin

Wanneer?
Rose, vrugtebome, druiwestokke en krismisrose moet in die WINTER gesnoei word, verkieslik middel Julie tot einde Augustus.
Indien jy in ‘n area woon waar dit swaar ryp, moet jy selfs nog later snoei
Waarom?
Die snoei van dié plante (selfs ook die meeste ander plante) is om die plant jonk, ferm en gesond te hou. Jy verbeter ook die kwaliteit en kwantiteit van die blomme en vrugte. Verder help dit om die grootte, voorkoms en fatsoen van jou struike en bome te beheer en te verbeter.
Gereedskap!
Gebruik slegs kwaliteit snoeiskêre, ‘n skerp snoeisaag en ‘n paar ordentlike tuinhandskoene sal ook help.
NB-NB-NB: Steriliseer jou gereedskap na élke vrugteboom of roosstruik wat jy klaar gesnoei het met kaliumoermanganaat óf Brandspiritus óf Dettol. Dit verhoed die verspreiding van virussiektes tussen plante.
NOTA: 1 – Jong nuwe hout produseer die beste, so probeer dit behou so ver moontlik. Moenie dit verwar met waterlote of wildelote (by rose) nie.
2 – As jy te veel lote en takke op boom en struik agterlaat, sal daar wel baie blomme en vrugte wees, maar met ‘n kleiner vrug en swakker kwaliteit.
3 – Sodra klaar gesnoei, spuit dadelik met kalkswael (een deel per tien dele water) om sluimerende swamsiektes en ander peste te beheer. Daar is nou ook ‘n nuwe produk op die mark, by name Kumulus.
4 – Baie belangrik: Verwyder alle snoeisels, takkies, blare en lote rondom die plante om siekteverspreiding te voorkom.
Hoe knip (snoei) ek
1 – Verwyder alle dooie lote en takke, so ook alle swak en krom takke
2 – Oorblywende lote word uitgedun en tot plus minus een derde van die oorspronklike lengte teruggeknip.
3 – Swak en minder produktiewe lote word ook verwyder.
4 – NB: Maak alle snitte ongeveer 5 mm bo ‘n ogie wat na buite wys. Die snit moet skuins wees na binne, sodat water kan afloop om infeksie te voorkom.
5 – Snoeiwonde kan verseël word met “tree seal” of “steriseal”
6 – Hoogstam-rose word ook net soos ‘n bosroos gesnoei.
Voorspoed met die snoeiwerk, dit is nie so moeilik nie! Indien jy nog twyfel kom besoek ons by die kwekery sodat ons vir u kan wys hoe dit gedoen word. Ons gesels weer 28 Julie.
Tuingroete
George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*