Hoe gemaak met vernuwing van bestaande tuin – deel 2

Hoe gemaak met vernuwing van bestaande tuin – deel 2

Na ons vorige skrywe van 25 Mei, kom ons nou by die teken van ‘n basiese tuinplan.

A. Alle erwe behoort ‘n terreinplan te hê, wat aandui hoe die huis op die erf geplaas is; waar alle dreine, waterpype en kabels gelê is. Indien jy dit nie het nie, teken jou eie plan en gebruik ‘n maklike skaal (bv 1cm=1m).
Maak ‘n paar afskrifte van die basiese plan, dan kan jy byvoorbeeld op een afskrif alle bestaande goed aandui, soos krane, groot bome, windrigtings, deure, vensters en hekke.
B. Op die tweede afskrif kan jy rofweg spesifieke areas aandui soos onthaal-area, grasperke, harde oppervlaktes (bv plaveisel), speelareas vir kinders, groentetuin of stoorareas vir kompos en tuingereedskap.
C. Op die derde plan kan jy alle beskikbare ruimtes aandui, ten beste benut en wat by die styl van jou huis pas,
Vir ‘n informele tuin gebruik ons rondinge/sirkels, maar vir ‘n formele tuin gebruik jy reghoeke, vierkante en driehoeke.
D. Op plan 4 dra jy nou alles van nommer 1, 2 en 3 oor na een plan toe en bring nuwe detail by.
Wanneer ‘n bestaande tuin herskep word, kan dit gebeur dat plante en fokuspunte nie goed inpas by jou nuwe uitleg nie.
Indien jy hulle nie kan skuif of regsnoei nie, verwyder dit
E. Ten laaste, bring nou alle fyner detail in soos die soorte plante en bome wat geplant gaan word.
Gebruik ‘n klompie sleutelprente in die kantlyn om aan te dui wat alles op die tuinplan beteken
F. Nou is dit tyd om jou plantlysie op te stel met die tuinplan byderhand en met die inagneming van die klimaat, mikroklimaat, grondtoestande, son, skadu, wind, immergroen of bladwisselend, dis alles dinge wat in gedagte gehou moet word.
Indien jy onseker is van jou plantkeuses, gaan na jou kwekery, sit ‘n paar idees bymekaar en kyk of die kombinasies werk.
G. Die ideaal sou wees om alles op een slag te plant, dan kan jy dadelik ‘n idee kry van die totale effek.
Dit is dalk moontlik as die area kleiner is, maar as tyd en geld beperk is, kan aanplanting oor tyd gedoen word – solank jy net by jou beplanning hou!
Dinge kan bygevoeg word soos jy vorder; dit moet net inpas en nie lyk of dit aangelap is nie.
Sterkte met die beplanning! Volgende keer (27 Julie) praat ons oor snoeitake. Dan sal ons op 31 Augustus verder praat in verband met Fokus-punte in jou tuin.
Bronne geraadpleeg: Pragtuine op klein skaal – Struik).
ONTHOU: Dit is nou snoeityd!! Alle rose, wingerd, bladswisselende vrugtebome, krismisrose en bladwisselende sierbome moet nou gesnoei word. Doen navraag by jou kwekery oor die snoei-proses en die spuit van ‘n swammiddel en die gee van voeding.

Groetnis tot volgende keer

George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*