Hoe gemaak met…George Retief

Hoe gemaak met…George Retief

Tuinmaak met vuil hande

Ek lees in ‘n artikel in DIE BURGER van 14 November 2011 dat “GELUKKIGE MENSE HET VUIL HANDE” geskryf deur Maureen Joubert in “Van Alle Kante”
Nou nie allerlei vuil nie, maar vuil van plant en snoei en onkruid uittrek, met ander woorde, TUINIERS is gelukkige mense.
As jy ‘n kind op sy lekkerste wil sien speel, bring hom tuin toe, of na ‘n sandhoop of ‘n modderpoel.
Die stelling is nie sommer afgelei van waarneming nie, dit is wetenskaplik bewys. Newermaaind “groen vingers”; dis die lekkerte wat jou tuin toe stuur en uiteindelik van jou ‘n bekwame tuinier maak. Dit alles danksy ‘n spesifieke “vriendelike” bakterie in die omgewing en die grond, wat wetenskaplikes reeds glo anti-depresssiewe voordele inhou.
Hulle sê nou ook dat hierdie organisme serotonienvlakke by mens en dier verhoog, wat ons meer ontspanne, gelukkiger en slimmer maak ! Die bakterie se naam is MYCOBACTERIUM VACCAE, en dit word opgeneem en ingeasem wanneer jy lang tye in die buitelig deurbring en veral tuinmaak.
Nou wonder jy net: Moet jou tuinwerk voortaan nie liefs sonder tuinhandskoene aangepak word nie? As jy kaalhand werk, sal dit wat goed is, nie nog beter wees as jy nie jou (vuil) hande was nie?
En as jy uiteindelik oorloop van die opkikkerende organisme, sal diegene rondom jou nie ook daarvan inasem en gelukkiger wees nie?
Daar is altyd êrens ‘n stukkie grond waarin jy jou hande kan steek, selfs op die allerkleinste woonstelbalkon.
Ek het al gesien hoe woonstelbewoners die sypaadjies inspan vir plant. Nou weet ons (baie lesers seker lank voor my) vuil hande behoort aan gelukkige mense.
Ons moet bly wees as die kleingoed met modderbesmeerde hande en selfs gesigte by die kombuisdeur instap.
Dink net hoe hoog hul serotonienvlakke dan is!
Dit is DESEMBER, die dae word langer en warmer en baie tuiniers gaan seker ook bietjie op verlof, dus moet ons sorg dat ons tuine gereed is vir hierdie seisoen van die jaar.
Sorg dat jou besproeiingstelsel reg werk, gooi genoeg deklaag tussen jou plante (hiervoor gebruik ons kompos en dennebasstukke).
Daar is ook nog ander produkte wat gebruik kan word om grondvog te bewaar, kom besoek ons en ons sal u wys wat om te gebruik.
Hierdie tyd van die tuinjaar is daar ook nog ‘n paar tuinpeste en plae wat jy op die uitkyk voor moet wees:
BLAASPOOTJIES: (thrips) is ‘n baie klein goggatjie wat (van wit in die nimfstadium tot pikswart in die volwassestadium verkleur) plante aanval.
By ROSE suig dit die blomknoppe dat dit glad nie kan oopmaak nie.
Ander plante se blare rol toe (dit is waar die nimfe wegkruip) of die blare sit inmekaar verstrengel en is ook taai.
ROOISPINNEKOP: (red spider mite) is nog ‘n baie klein insek wat groot skade kan aanrig by plante, dit kruip gewoonlik onder die blare weg. Die eerste tekens van hul bedrywighede is dat die blare aan die bokant so ‘n sout-en-peper gespikkelde voorkoms kry, by nadere ondersoek sal jy baie fyn spinnerakweb sien wat die blare, stingels en blomme toevou.
SNYBEKKEWER / WINGERDKALANDER: Die kalant kom gewoonlik net in die nag uit om sy vernietigingswerk te pleeg, bedags kruip dit in die grond weg. Dit is ‘n grys-swart kewertjie, kleiner as ‘n klein sonneblompit, dit vreet die blare van verskeie plante, byvoorbeeld Clivias se blaarrante is vol klein inhammetjies, rose se blare bly net die are oor, die res is weggevreet. Vetplante lyk of jy dit met donshaël geskiet het, vol klein vreetmerkies.
WOLLUIS EN WASDOPLUIS: Die twee plantpeste kan ook nogal baie lastig wees op verskeie plantspesies.
Dit besmet plante so erg en suig alle lewe uit hul uit dat dit uiteindelik doodgaan.
Die eerste tekens wat sigbaar is, is die plante word so taai dat jy nie daaraan kan vat sonder om ook taai te word nie, dan word die blare en stamme ook pikswart (black soot) as gevolg van die taai afskeidings.
Die plante kan bespuit word met die korrekte insekdoders, maar die beste manier om dit uit te roei, is deur middel van ‘n sistemiese middel wat deur die wortels opgeneem word.
MIERE & TERMIETE: Dit is twee plae wat ek nogal baie bekommerd oor is, omdat daar in sekere dele van MALMESBURY redelik baie erge besmettings voorkom.
Termiete of ook “rysmiere” genoem, begin enige plek nuwe kolonies, selfs in ons teerstrate en die se fondasies is nie meer veilig nie, orals sien jy hopies sand en grond wat uitgewerk word. Daar is ‘n paar produkte op die mark beskikbaar om die twee plae mee te bekamp.
Wanneer jy probleme met iets in jou tuin ondervind, neem ‘n goeie foto of pluk ‘n blaar of twee af, sit dit in ‘n sakkie en bring dit saam kwekery toe, dan kan ons eerstehands sien wat is fout en die korrekte produkte voorskryf.
Soms het jy al ‘n hele apteek in jou gifkas, maak ‘n lys van wat jy het, miskien het jy dalk al die regte medisyne.
Indien jy tuisbly die Kerstyd, geniet jou tuin en bly gesond.
Onthou; koop plaaslik en sorg so vir jou eie gemeenskap.
Mag julle ‘n baie GESEëNDE KERSFEES beleef en voorspoed vir 2021.
Tuingroete tot 27 Januarie 2021
George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*