Hoekom ekstra klasse

Hoekom ekstra klasse

Ekstra-klasse vir skoolgaande kinders is iets wat baie ouers soms mee worstel. Moet hulle, moet hulle nie? Watter voordele hou dit vir jou en jou kind in?
Ons het met die kundige op die gebied, Jana Maass, aangeklop vir raad.
Maass bied self ekstra klasse aan en help ook leerders met hul huiswerk.
• Hoekom is ekstra-klasse noodsaaklik gedurende die tydperk van Covid-19?
Leerders het tydens die Covid-tydperk baie meer uitdagings as ooit te vore. Leerders wat skoolgaan op rotasie-stelsel sukkel om hulle werk te doen wanneer hulle by die huis is. Ouers sukkel ook om leerders by te staan met hulle werk, omdat hulle self moet werk. Hulle beskik ook nie altyd self oor die nodige kennis van onderrig-strategieë om leerders te help nie. Ouers wil graag hê dat hulle kinders die nodige ondersteuning moet kry, sodat hulle nie agter raak met hulle akademie nie. Daar bestaan dus ‘n groter behoefte vir ekstra klasse vir leerders.
Ek het hierdie behoefte raakgesien en het besluit om my kundigheid te gebruik as ervare onderwyseres om leerders te help om hulle volle potensiaal te bereik. Ek het in 2018 gegradueer aan Universiteit van Stellenbosch met ‘n B.Ed. in intermediêre- en senior fase.
• Wat moet ouers in gedagte hou as hulle op soek is na ‘n kundige wat hulle kinders kan help met ekstra klasse?
Ouers moet ‘n kundige soek om hulle kinders te help. Hulle moet die persoon vra of die persoon ervaring het om die leerarea te onderrig en wel gestudeer het. Hierdie persoon moet kennis hê van die kurrikulum, ‘n verskeidenheid onderrig strategieë ken en ook weet hoe assesserings van die vakgebied plaasvind.
• Paar studiewenke om te onthou
Aangesien die eksamen om die draai is, is dit belangrik om betyds te begin met eksamen voorbereiding. Leerders skryf tydens die tweede kwartaal oor kwartaal een en twee se werk. Ouers kan leerders help om ‘n studierooster op te stel van watter werk hulle wanneer moet leer. Dit sal veral help om leerders se spanning oor die eksamen te verlaag. Leerders moet ‘n vasgestelde plek hê waar hulle leer en huiswerk doen. Leerders moet gereelde hersiening doen om die werk vas te lê. Hulle kan hulle eie oefen vrae maak om te toets of hulle die werk onthou.
Hulle weet dan watter werk hulle weer moet hersien. Leerders kan gebruik maak van prentjies om die werk te leer of rympies maak om belangrike feite te memoriseer.
Kontak Maass by juffroumaass@gmail.com of 071 4101 361 met enige navrae.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*