Hospitaal: Dr Hawkridge prys Swartlandse gesondheidswerkers

Hospitaal: Dr Hawkridge prys Swartlandse gesondheidswerkers

Die Wes-Kaap Regering Gesondheid se fasiliteite en dienste, insluitend hospitale in die Weskus, is onder geweldige druk weens die COVID-19-pandemie.
Die afgelope 7 dae, tot en met 11 Januarie 2021, was daar 48 COVID-19-verwante sterftes in die Weskus.
Die Swartland Hospitaal op Malmesbury is onder groot druk en veral die COVID-19 toetsstasie.
(Let daarop dat die plaaslike COVID-19 toetskriteria verskil van die van die Kaapse Metropool-area.)
In die Weskus kom die volgende persone in aanmerking vir COVID-19-toetsing:
o Mense met COVID-19 simptome (dit sluit gesondheidswerkers in, asook mense wat in gemeenskaplike areas woon, soos koshuise en ouetehuise)
o Mense wie geskeduleer is vir ‘n operasie
o Mense wie COVID-19 gehad het en ná 90 dae weer COVID-19 simptome het
o Gesondheidswerkers wat in kwarantyn is en ná sewe dae nog nie simptome het nie. Dit sal hulle toelaat om na die werksplek terug te keer indien hul toetsuitslae negatief is.
Op 12 Januarie is 20 COVID-19 pasiënte opgeneem by Swartland Hospitaal en daar is ook 12 persone wie vermoedelik COVID-19 het en van wie die toetsuitslae afgewag word.
86% van die beddens wat beskikbaar is vir COVID-19, is tans in gebruik.
Ten spyte van die geweldige druk waaronder almal werk, sê Dr. Tony Hawkridge, bestuurder van mediese dienste in die Swartland/Bergrivier Sub-distrikte dat hy trots is op hoe die personeel dit hanteer.
“Hoewel ons sommige dienste moes afskaal, soos die uitreike deur spesialiste, kan ons steeds ander noodsaaklike dienste soos verloskunde bied. Ons is dankbaar dat die hoeveelheid mense wat weens trauma of besering behandel word, drasties afgeneem het weens die vlak van inperking. Dit laat ons toe om te kan fokus op COVID-19 pasiënte,” sê hy.
Die departement bedank almal wat gebruik maak van afsondering by kwarantyn/isolasie-fasiliteite in die Weskus. Inwoners kan verder help om die druk op die gesondheidstelsel is, te verlig:
• Sit jou masker op sodra jy jou huis verlaat. Dit moet jou mond en neus bedek. Moenie jou masker vir iemand anders leen nie en moet ook nie by iemand anders ‘n masker leen nie.
• Vermy oorvol plekke, beknopte binnenshuise ruimtes waar daar swak ventilasie is, asook plekke waar nabyekontak met ander nie vermy kan word nie.
• Voltooi jou tyd in afsondering en doen navraag oor die gebruik van kwarantyn/isolasiefasilteite as jy jouself nie veilig kan afsonder nie. Indien jy positief getoets het vir COVID-19, kan jy ná 10 dae van afsondering jou afsondering beëindig. Indien jy COVID-19 simptome het kan jy ná 10 dae van afsondering jou afsondering beëindig. Indien jy nie simptome gehad het nie, kan jy ná 10 dae jou afsondering beëindig.
• Besoeke aan pasiënte in hospitale word nie toegelaat tydens die huidige vlak van die nasionale inperking nie. Jy kan wel die suster in beheer by die hospitaal skakel om jou versoek vir ‘n besoek te oorweeg indien daar spesiale omstandighede is, soos wanneer die pasiënt ‘n kind is.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*