HSS se top-leerder:

HSS se top-leerder:

Bly net oopkop

Louis de Jager van die Hoërskool Swartland op Malmesbury droom groot ná hy onlangs sy matriekuitslae ontvang het.
Louis is die skool se top-leerder met ‘n gemiddelde persentasie van 91%.
Louis is ‘n Malmesburiër in murg en been en het ook sy laerskoolloopbaan by Laerskool Swartland voltooi.
Vanjaar is die jaar wat hy sy graad in Bsc Wiskundige Wetenskappe: Rekenaarwetenskap aanpak.

Volgens hom was dit uiters moeilik en uitdagend om ‘n matrikulant in 2020 te wees, maar tog het dit ook baie positiewe punte vir hom ingehou.
“Die onsekerheid oor alles en die feit dat ons nie ‘n Junie-eksamen gehad het nie, het dinge baie negatief gemaak. Die silwer randjie om die donker wolk was dat ek op my eie pas kon werk, aangesien ons van die huis af moes leer. Ek was dus nooit oorweldig of verveeld nie. Al die sport en gees wat weggeval het, was hartseer, veral aangesien dit ons laaste jaar was, maar ek glo tog dit het ook vir ons almal meer tyd gegee om aan ons akademie te bestee, anders as die tradisionele besige matriek,” vertel Louis.
Louis is dankbaar vir die ondersteuning wat hy uit alle oorde ontvang het.
“Dit het dit vir my maklik gemaak om hard te werk, want ek het meeste van my vakke interessant gevind en daarvan gehou. Ek het ook geweet ek wil aan die einde van my skoolloopbaan kan terugkyk weet ek het my beste gegee.”

Die pandemie het sy tol geëis op talle leerders, maar Louis het ‘n goeie ondersteuningstelsel gehad.
“Vir my was dit meer ‘n geval van wie, nie wat nie. Al my vriende en familie het dit baie meer draaglik gemaak. My familie het vir my die gevoel geskep dat ek nie alleen deur die eksamen gaan nie en ek glo dit is broodnodig dat jy saam met jou vriende in die eksamen ‘n bietjie rus. Dit is beter om ‘n klein bietjie minder te leer en te herlaai, sodat jy meer effektief kan leer. Al is dit ‘n bietjie minder,” vertel hy.

Louis was sport en die gees van die skooljare sy gunsteling.
“Hoërskool Swartland het ‘n gees wat springlewendig is.”
Hy is dankbaar vir almal wat ‘n rol in sy sukses gespeel het. Sy vriende, familie, onderwysers en selfs sy hond, Mitzi.

Sy raad aan die matrieks van 2021: ” Bly oopkop en verwag enigiets. Hulle jaar gaan ver van normaal wees en die eerste ding wat jy moet leer is om nie ontsteld te word deur onverwagse dinge nie. Daar gaan baie wees so jy kort werklik n “bulletproof” houding. Moet ook nie verlore raak in die harde werk en stres nie , maak herinneringe en doen alles wat jy kan, jy het net een matriekjaar. Net omdat dit anders is as ander matriekjare beteken dit nie dat dit minder lekker is nie!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*