Kasteel Konstruksie bou aan splinternuwe Usave

Kasteel Konstruksie bou aan splinternuwe Usave

Die Swartland se gemengde ekonomie, die hernude belangstelling in plattelandse verblyf en sedert die Covid-pandemie, het die opsie om vanaf die huis te werk asook die beskikbaarheid van ‘waarde vir geld’-eiendom, opnuut die fokus gevestig op ontwikkelingsgeleenthede wat in die kleiner dorpies rondom die Kaapse Metro, opgesluit lê.
Die nuwe winkelsentrum op Riebeek-Wes, met Shoprite/Usave as ankerhuurder, het ongeveer agt weke gelede begin met konstruksie.
Die projekbestuurder is Riaan van der Heever van Kasteel Konstruksie. Riaan is ‘n veteraan wanneer dit kom by die druk wat gepaard gaan met die vereistes en verpligtinge van projekte van so ‘n skaal.
Sy vakkennis is onverbeterlik en sy ervaring van soortgelyke hoogs tegniese ontwerpe, maak hom ideaal geskik vir die bestuur van hierdie projek.
Sy reputasie vir eerlikheid asook kwaliteit vakmanskap loop hom vooruit.
Die sentrum wat strek oor twee vlakke, beslaan 1600m2 en sluit huurruimte vir agt winkels, asook twee kitsbanke in.
Voorsiening vir toiletgeriewe en voldoende parkering word ook gemaak.
Ideaal geleë, op die hoek van Voortrekker- en Hofstraat, is dit sentraal tot die ekonomiese aktiwiteite en verkeersroetes van die dorp.
Die ontwikkelaar maak spesifiek voorsiening vir ‘n apteek, waarvoor daar in die Riebeek Vallei, klaarblyklik, ‘n werklike behoefte bestaan. Aptekers word aangemoedig om van hierdie geleentheid gebruik te maak.
Plaaslike ekonomiese groei is die sleutel tot werksgeleenthede.
‘n Kompeterende kommersiële omgewing sit geld terug in die verbruiker se sak.
Hierdie klein formaat Usave-winkels bied ongeëwenaarde waarde vir geld sowel as maklike toegang tot ‘n reeks finansiële dienste.
Alhoewel die milde reën, die afgelope twee maande, ‘n invloed op konstruksie gehad het, beoog die Usave-sentrum, in Riebeek-Wes, om teen einde Augustus sy deure op die dorp oop te maak vir besigheid.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*