Sport: Keanan draf uit vir Tekkies-span

Sport: Keanan draf uit vir Tekkies-span

Almal is bekend met die gesegde, ‘waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg’…
Wel, dit is hierdie gesegde wat opkom tydens ‘n geselsie met Keanan Solomons, 20 jarige rugby speler van Malmesbury, wat onlangs gekies is vir CPUT se Varsity Shield Span of ‘Tekkies’ soos hulle beter bekend staan.
Keanan is ‘n kranige jong speler. Sy liefde vir die sport kan gemeet word aan al die toekennings wat hy, tot dusver, in sy jong rugbyloopbaan verwerf het.
Dit kom dus as ‘n skok wanneer hy noem dat hy eintlik verbied was om rugby te speel, nadat hy op 7 jarige ouderdom sy heupbeen gebreek het.
Die dokters het dit destyds baie duidelik gemaak dat hy nooit weer in enige sport sou kon deelneem nie.
Maar sport is egter in sy bloed en op 11 jarige ouderdom wou hy met alle mag rugby speel. Sy ma, Ursula Solomons, het geweier, maar Keanan was vasberade.
Op 11 jarige ouderdom het hy vir die eerste keer in ‘n sewestoernooi gespeel waar hy ook as speler van die toernooi aangewys was.
Die koeël was deur die kerk en Keanan het sy passie gevind.
In Graad 11, op 17 jarige ouderdom, was hy die jongste speler wat as kaptein vir Schoonspruit Sekondêr se A-span uitgedraf het.
In matriek het hy weer geskiedenis gemaak toe hy twee agtereenvolgende jare die FNB Classics, as kaptein, vir die skool gewen het.
Na matriek het Keanan by CPUT begin studeer en tussendeur vir Wesbank Rugbyklub se sewesspan gespeel om ondervinding op te doen. In 2020 was hy benoem as die beste voorspeler by die De Doorns-toernooi.
Die Covid-pandemie het egter sport aktiwiteite gekelder, maar toe SARVU onlangs die groen lig gee het Keanan weer volstoom met proewe by CPUT begin.
Behalwe talent het wilskrag, deursettingsvermoë asook harde werk by gedra tot hierdie mylpaal wat hy bereik het.
Dit was dus ‘n groot teleurstelling toe Keanan twee weke gelede sy knie beseer het en weens die besering moes terugstaan vir die 1ste ‘bubble’ van die toernooi.
Hy hoop en vertrou dat hy vir die 2de ‘bubble’ gereed sal wees.
‘Tekkies’ se eerste wedstryd was op Loftus Versfeld in Pretoria, en was gebeeldsend op 12 April 2021 op Supersport 211.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*