Kenner gee raad: Hoe om te sorg vir jou somertuin

Kenner gee raad: Hoe om te sorg vir jou somertuin

Ja, dit is sowaar al weer Desember en dan gaan baie van ons tuiniers mos bietjie met verlof, Die tuin moet reg voorberei word vir daardie tydperk om te verhoed dat die grond uitdroog en jou plante verlep of selfs doodgaan,
Gooi ‘n lekker dik lag kompos tussen jou plante om as grondkombers te dien – dit hou die vog in die grond en dien ook as bemesting. Jy kan ook by plante wat sensitief is vir uitdroging drie produkte gebruik wat in die grond ingewerk word om water te “stoor” vir tye wanneer die plant dit nodig het. Dit werk ook baie effektief vir plante in houers, potte en hangmandjies. Doen navraag by jou plaaslike kwekery vir die regte gebruik daarvan.
Indien jy ‘n besproeiingstelsel in jou tuin het, maak seker dat alles behoorlik werk. Indien dit ‘n handstelsel is, sorg dat die persoon wat jou tuin moet natlei, weet wat hy of sy doen. Indien dit ‘n outomatiese stelsel is, sorg dat jy ‘n vars bystand-battery insit en kry ook iemand wat weet hoe werk die stelsel om so af en toe te kom kyk of alles nog werk.
Dan is daar ‘n paar peste en plae wat begin probleme gee:
Blaaspootjies: (thrips) is ‘n baie klein goggatjie wat van wit in die nimfstadium tot pikswart in volwasse stadium, plante aanval. By rose suig dit die blomknoppe só dat dit glad nie wil oopmaak nie. Party plante se blare rol toe, met die nimfies binne-in en ander plante se blare raak op die bokant so gespikkeld en aan die onderkant kry dit swart uitskeidings wat soos sandpapier voel.
Rooispinnekop (red spider mite) is ook ‘n baie klein insek wat gewoonlik aan die onderkant van blare wegkruip en plantsap uitsuig. Soms word die blare, blomme en stingels met ‘n dun spinnerakweb toegespin. Die eerste tekens is gewoonlik sigbaar as die blare so ‘n asvaal, gespikkelde sout-en-peper-voorkoms kry.
Snybekkewer/wingerskalander – vreet gewoonlik aan plante se blare, dat dit lyk soos iets wat met donshael geskiet is. Dit is ‘n vaalgrys tot ligswart klein kewer, wat snags uitkom en bedags wegkruip.
Wanneer jy probleme met dié plae het, kan jy gerus ‘n paar blare of klein takkie saamneem na jou kwekery, om die regte middels daarvoor te kry.
Indien jy tuisbly dié Kerstyd – geniet jou tuin!
Onthou: Koop plaaslik en sorg só vir jou eie gemeenskap.
Geseënde Kersfees en voorspoed vir 2022!!

Tuingroete
George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*