Kenner maan oor Covid

Kenner maan oor Covid

Dr Irma Kruger gee raad

Tans is daar ‘n groot gevoel van “COVID-fatigue”. Almal is moeg om van COVID te hoor, maskers te dra en te wag vir ‘n inenting. Tog, volgens wetenskaplike modelering en epidemioloë, kan die land hom staal vir ‘n sogenaamde derde golf van infeksies. Die kommerwekkendste van hierdie nuwe golf van infeksies, is dat dit verwag word om saam te val met die tyd wat die tweede kwartaal vir die skole begin. Dit is ook die tyd wanneer meeste skole terugkeer na die “ou” normaal. Die tyd waar kinders almal saam in die klas, voldag skool gaan. So, hoe nou gemaak?
Die belangrikste is dat die gemeenskap moet besef dat die COVID pandemie steeds nie verby is nie en dat ons nie werklik “COVID-fatigue” kan bekostig nie. Ja, ons almal is moeg van die maskers en hande spuit, maar tog is dit nodig.
Ons weet nou heelwat meer van COVID en dit is duidelik dat kinders wel deur die COVID-pandemie geraak word. Kinders word minder deur COVID geïnfekteer en word minder siek, maar daar kan wel ernstige komplikasies soos multisisteem inflammatoriese sindroom ontstaan in sekere kinders. Daar is ook aanvanklik gedink dat kinders sogenaamde superverspreiders van COVID -19 is, maar nuwe data wys dat daar eerder superverspreider geleenthede is – lang samekomste van groot groepe mense in swak geventileerde areas. Dit bring ons natuurlik terug by skool…
So, hoe beskerm ‘n mens werklik jou kind wanneer die skool weer begin?
Die Centres for Disease Control and Prevention (CDC) beklemtoon dit wat ons reeds weet:

  1. Dra ‘n masker wat oor jou neus en mond pas
  2. Bly ten minste 1.5-meter van mekaar
  3. Was jou hande gereeld met seep en water
  4. Vermy swak belugte areas waar groot groepe mense saamdrom
    Dit beteken natuurlik dat hierdie maatreëls steeds by skole toegepas moet word. Dit beteken dus dat daar vars lug en sirkulasie in alle klaskamers verseker moet word – ja, dit beteken oop vensters al is dit winter. Areas waar daar gereeld aan gevat word, moet gereeld gesaniteer word en kinders moet die geleentheid hê om soveel moontlik hande te was en te spuit. En, natuurlik, maskers. Verder kan ons net wag vir die immuniseringsprogram om momentum te bereik in die hoop om so gou moontlik, soveel moontlik van ons gemeenskap te immuniseer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*