Kenners gee raad oor Junie-maand in my tuin

Kenners gee raad oor Junie-maand in my tuin

Voor ons by die tuintake kom, kom ons praat eers oor “WAT HET TUINWERK MET STRES TE DOEN”? Elke mens het sy eie manier om met sy stresvlakke te werk.
Sommige gaan draf, ander ry fiets, speel ‘n paar rondes gholf of gaan selfs gimnasium toe. Wat jy ook al doen met jou stres, tuinwerk is ‘n baie goeie terapeut om jou gemoedstoestand te verbeter. Maak nie saak wat jou ontstel het of waarvoor jy keelvol geword het nie, dit bly verbasend wat ‘n bietjie krap in jou tuin aan jou geestestoestand kan doen.
Dit is reeds oor en oor bewys dat tuinmaak wondere vir jou gemoedstoestand doen, om met jou hande in die grond te krap (al is dit met handskoene aan) is die beste manier om jou kop skoon te kry en jou lyf se moeg van al die stres weg te werk. Laastens, vra maar vir enige ywerige tuinier of hulle met stres gepla is, die antwoord sal meestal “nee” wees. Al waaroor hul moontlik mag kla is dalk ‘n seer rug of seer knieë met ‘n breë glimlag op die gesig.
Nou praat ons tuintake; baie mense vra my dat hulle sukkel om die saad wat hul saai of steggies wat hul plant aan die groei te kry, wat doen hul verkeerd. Kom ons begin by die saai van saad, die mees belangrike ding van saad is, JY MOET DIT NIE BEGRAWE NIE!
Wanneer jy saad saai, is die eerste belangrike ding om jou grond reg voor te berei, hetsy direk in die tuin of in saadbakke/kissies.
Direk in die tuin moet jy ‘n deeglike hoeveelheid kompos in jou grond inspit sodat dit wat jy daar gaan saai of plant, mooi kan groei tot blom of oestyd. In saadkissies/bakke gebruik jy ‘n saailingmengsel wat bestaan uit gelyke dele sand, kompos & leemgrond, of hedendaags gebruik ons die palmveen wat jy in blokvorm koop en self voorberei. Geen saad moet dieper gesaai of geplant word as wat die saad se dikte is nie. Dit beteken dat wanneer die saadjie 1mm dik is, dan plant jy dit net 1mm onder die grondoppervlakte, ensovoorts.
By groter boomsade is die gebruik gewoonlik dat die saad net halflyf in die grond ingedruk word met die rug wat nog uitsteek.
Sommige sade moet baie ‘vars’ gesaai word, dit beteken jy kan dit nie bêre vir later nie, waar ander sade kan weer vir baie lank gestoor word teen die regte temperature.
Wanneer jy saad oor ‘n baie groot oppervlak moet uitstrooi, soos byvoorbeeld grassaad of fyn blomsaad, is dit soms baie moeilik om te sien waar het jy nou alreeds gesaai en waar nog nie.
Jy kan die saad meng met effe klam growwe sand, of met growwe mieliemeel.
Dit moet net deeglik vermeng word, anders gaan jy ook nie ‘n mooi eweredige verspreiding van die saad kry nie. Daarna hark jy net liggies die saad in die grond in.
Wanneer ons met steggies werk, is daar ‘n paar dinge om in gedagte te hou. Jy kry sagtehout, mediumhout en hardehout by plante. Sagtehout is die heel jongste groei aan plante en vir die steggies gebruik ons ‘n no.1 hormoonpoeier om beworteling aan te moedig. Mediumhout is vanjaar se groei, maar wat al bietjie meer afgehard is, en daar gebruik ons ‘n no.2 hormoonpoeier.
Hardehout is meestal die dele van ‘n plant wat van die vorige groeiseisoen kom, en hier gebruik ons ‘n no.3 hormoonpoeier. Jy kan jou steggies ook direk in die tuin gaan plant, maar met sommige is dit beter om eers die steggies in ‘n beheerde omgewing aan die groei te kry en dit daarna te gaan uitplant, nadat jy dit eers goed geklamatiseer en afgehard het. Sterkte met die kweekproses.
Laastens, wat is nou op die plantkalender. Die ‘LILIUM BOLLE’ het op die rakke gekom, so kom ons plant die LELIES.
Dan is Gesiggies (Pansy’s) en Violas nou die hoofdis by die saailinge, daar is ook Primulas, Callendula (Gousblom), Dianthus (Grasangelier), Cinerarias en nog vele meer op die tuinspyskaart. By die groente en kruie is daar ook nog ‘n lekker verskeidenheid. Ons het ook ‘n wye verskeidenheid meerjarige plante (veral grondbedekkers ) in die 6 pak houers, om nie eens te praat van al die mooi meerjarige plante in potte nie. Te veel om hier op te noem.
Ons nooi nog steeds die lesers uit om jul vrae aan ons te epos: info@malmesburykwekery.co.za
Lekker tuinmaak en raak so ontslae van al daai stress.
Ons gesels weer 30 Junie 2021.
GEORGE RETIEF

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*