Kitshoff-egpaar laat liefde vir motorfietse, gemeenskap blom

Kitshoff-egpaar laat liefde vir motorfietse, gemeenskap blom

Die Swartland motorfietssaamtrek, bekend as die Swartland Rally is ‘n jaarlikse liefdadigheid geleentheid wat op die Swartland-skougronde op Moorreesburg plaasvind. Die eerste saamtrek het in 2012 plaasgevind en dit het deur die jare al hoe meer gewild geword.
Dit is gedurende die afgelope 3 byeenkomste deur ongeveer 900 besoekers per geleentheid ondersteun en word as een van die 5 grootste motorfiets saamtrekke in die Wes-Kaap beskou.
Die verskil tussen die Swartland Rally en die meeste ander motorfietssaamtrekke, is dat Swartland Rally ‘n gesinsgeleentheid is en dat dit ook vir kinders voorsiening maak.
Ek het vir Francois en Philinda Kitshoff oor ‘n koppie koffie by Moorrees-restaurant ontmoet om meer uit te vind oor die saamtrek. Hulle boer op die plaas Skerpkop buite Moorreesburg.
Philinda vertel dat Francois en sy bewus geraak het van die finansiële behoefte by die ouetehuise en kinderhuis op Moorreesburg nadat Francois se ouers van die plaas af na ‘n woonstel getrek het by Huis Moorrees. Hulle wou graag iets doen wat ‘n wesentlike verskil aan die situasie kon maak.
Francois is bevriend met motorfietsryers en het ‘n bietjie met die manne gesels. Sy aanvanklike idee was om ‘n klompie motorfietsryers plaas toe te nooi en daar ‘n braai te hou. Hy sou dan sommer ‘n hoed omstuur en vra vir donasies wat aan die instansies geskenk kan word.
Namate hy die idee getoets het by die motorfietsryers en met verskillende klubs in aanraking gekom het, het hy besef dat die belangstelling veel groter is as wat hy met ‘n plaasbraai kan hanteer. Daar was ‘n behoefte aan ‘n goed georganiseerde saamtrek in ‘n veilige omgewing, waar daar heel naweek gekuier kan word, maar wat ook die vrouens en kinders betrek.
Francois het begin dink aan ‘n geskikte perseel. Hy het gewik tussen die Gene Louw-sportstadion op Moorreesburg en die plaaslike Swartland Skougronde.
Hy moes mooi onderhandel om uiteindelik toestemming vir die geleentheid by die skougronde se bestuur te kry en daar is op duidelike voorwaardes ooreengekom.
Die eerste saamtrek het in 2012 plaasgevind en was ‘n groot sukses.
Aanvanklik is die meeste van die organisasie en fisiese werk deur Francois en Philinda self gedoen. Met die tyd is Erhard Koch en Chris Swanepoel betrek as deel van die bestuur. Chris is vier jaar gelede oorlede in ‘n ongeluk.
Die Swartland Rally vind jaarliks plaas gedurende die eerste naweek in April, met uitsondering van 2020 en 2021 wens die inperking maatreëls.
Gedurende die afgelope drie jaar was die saamtrek uitdagend vir Francois en Philinda. Soos genoem was daar geen byeenkoms gedurende 2020 nie.
Die registrasiefooi van besoekers moes terugbetaal word. Uitgawes was egter reeds aangegaan en T-hemde was gedruk met 2020 daarop. In 2021 het die situasie grotendeels herhaal toe die byeenkoms weer moes afgestel word.
In 2022 was Philinda baie siek en sy kon nie loop nie. Sy kon dus nie vir Francois bystaan met die
reëlings nie. Hulle dogter Mariaan, het ingespring en raakgevat waar nodig en het help verseker dat die afgelope 2022 byeenkoms ‘n sukses kon wees.
Die byeenkoms is ‘n besonderse ervaring vir die inwoners van die dorp. Die motorfietsryers wat in groot getalle opdaag is reeds ‘n belewenis vir die plaaslike inwoners.
Die hoogtepunt is die skouspelagtige “mass ride” waartydens daar deur die dorp gery word. Aan die voorpunt ry trekkers met sleepwaens waarop die mammas en kinders ry en sodoende kan deel hê aan die optog, gevolg deur die klomp motorfietse in gelid.
Philinda vertel van die tannie wat die motorfiets besoekers deur haar kamervenster by die ouetehuis aanskou het. Sy wink toe vir Philinda nader en wys na een van die motorfietsryers. Die tannie sê vir Philinda, dit is haar seun Alfonso en sy vra dat hy haar moet kom groet. Alfonso het toe lekker met sy ma gaan gesels, sommer so deur die venster. Die optog is later daar weg en lankal terug by die skougronde toe Alfonso eers weer daar opdaag. Toe Philinda vra of hy lekker by sy ma gekuier het antwoord hy, “My naam is nie Alfonso nie en die tannie is nie my ma nie.”
…vir daardie dag was hy die tannie se seun en sy was gelukkig omdat sy met haar seun kon gesels.
Vir die besoekers is dit ‘n unieke avontuur. Hulle kan vir hulle akkommodasie inrig in die perdestalle waar hulle kom “glamping” doen.
Van die mense arriveer met karavane en sommige kom kamp op die perseel. Die terrein word beveilig deur ‘n sekuriteitsmaatskappy wat wagte plaas op die terrein.
Die hekke open Vrydag oggend om 08:00 en om 10:00 word die vure aangesteek. Daar word die hele naweek gebraai, kos gemaak en vuur gemaak tot Saterdag middernag.
Daar is ‘n verskeidenheid stalletjies wat verskillende items verkoop. Vanselfsprekend is daar vir elke motorfiets saamtrek ‘n T-hemp en lapel wapen (badge) te koop. Die manne is gretig om hulle ‘badges’ te kry om op hulle oor-baadjies te vertoon.
Die meeste van die naweek se opbrengs word aan die plaaslike instansies geskenk. Van die fondse word vir gestremdes in St Helenabaai geskenk en ‘n deel van die fondse word as bydraes geskenk aan spesifieke behoeftes by deelnemende motorfiets klubs.
Voor die saamtrekke, samel die organiseerders donasies in by die boere in die distrik en ook by die plaaslike abattoir. Die gemeenskap ondersteun graag die projek en daar word so ongeveer 15 skape en ‘n heel vark gebraai gedurende ‘n naweek.
Die program begin Vrydag middag so teen 16:00 en Vrydag aande is die hoogtepunt van die naweek.
So teen 18:00 op Vrydag word die verwelkoming gedoen.
Dan begin die musiek kunstenaars optree en so teen 20:30 word “Miss Rally” junior en senior aangewys. Die kriteria vir “Miss Rally “ is die beste “cheer”. Die dame wat die beste reaksie van die mense kry, is die wenner.
Saterdag oggend begin met ‘n ontbyt vir ongeveer 1000 mense.
Gedurende die 2022 saamtrek het die VGK Kerk van Moorreesburg die ontbyt voorberei.
Die spyskaart vir die dag sluit ‘n keuse in van:

  • Braaivleis;
    -Skaap vaal pot;
    -Beesstert Pot;
    -Afval Kerrie pot;
    -2 Skilpadjies op ‘n stokkie;
  • Spitbraai en broodrolletjie;
    -Hoendersosatie en broodrolletjie
    Al die kos wat oorbly word geskenk waar behoeftes is. Die oorblywende rou vleis word verdeel as skenkings tussen die ouetehuis en die kinderhuis.
    Die Swartland Rally is ‘n groot geleentheid, beide in omvang en in die finansiële verskil wat dit vir die plaaslike instansies maak.
    Francois deel met my dat hy maar onlangs weer self begin motorfiets ry het nadat hy ook ‘n gesondheid terugslag beleef het. Hy vermy maar die stadsverkeer, maar geniet die vryheid om weer te kan ry.
    Hy sou graag wou sien dat daar jonger mense wat lief is vir motorfiets ry en ook ‘n hart het vir die plaaslike gemeenskap betrokke raak by die organisering en bestuur van die Swartland Rally.
    Ons groet en vertrek.
    Ek is besonders beïndruk met die onbaatsugtige gesindheid van Francois en Philinda Kitshoff om sonder winsbejag ‘n groot verskil te maak in die gemeenskap van Moorreesburg.
    (Fotos met toestemming van Francois Kitshoff en met erkenning aan Derick Batt)
    Cobus van der Merwe
    FB: Ontdek Moorreesburg

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*