Klein begin met groot potensiaal

Klein begin met groot potensiaal

Dit het begin met ‘n gedagte, maar toe die twee susters uiteindelik hulle koppe bymekaar sit, het dit ‘n werklikheid geword.
So vertel Theresa Beukes, nadat sy lank geworstel het met die idee om ‘n besigheid te begin.
Aangesien haar suster, Elizabeth Goemas, 30 jaar se ondervinding in die kleremaakbedryf het, was dit vir haar logies om op iets soortgelyks te fokus. En dit is hoe die twee susters uiteindelik begin het om skoolklere te maak.
Die besigheid, bekend as ’Kleinbegin’, het in November 2020 die lig gesien.
Aan die begin was dit maar stresvol, aangesien nie een van hulle twee enige besigheidsondervinding gehad het nie.
Dit was egter ‘n nuwe uitdaging, waarvoor hul kans gesien het en was dus bereid om te leer.
Elizabeth (Libba) noem dat dit ook ‘n seën is dat hulle twee mekaar so goed aanvul.
Terwyl Theresa fokus op bemarking, fokus sy op die produksie, en elke dag leer hulle iets nuuts by mekaar.
Die susters spreek ook dankbaarheid uit oor die merkwaardige groep mense wat vir hulle werk.
Tans word skoolklere gemaak op aanvraag deur ouers en sluit dit meeste van die plaaslike skole in, maar hulle het ook onlangs ‘n kontrak los geslaan met ‘n skool in Darling.
Die dames is trots wanneer met verwysing na skoolklere dit alles vanaf rokke, sweetpakke, blazers tot en met reënbaadjies insluit.
En alhoewel skoolklere hulle primêre fokus is, is hul nie tot dit gebonde, en het hulle reeds vir ‘n hele paar plaaslike besighede items gemaak.
Elizabeth noem dat kwaliteit vir hulle uiters belangrik is, sowel as bekostigbaarheid.
Die doel is om kliënte tegemoet te kom, veral gedurende hierdie uiters moeilike ekonomiese tydperk.
Daar is nog baie ruimte vir groei, maar vir eers vat hulle dit net een tree op ‘n slag.
Vir enige navrae kan hulle vir Theresa Beukes of Elizabeth Goemas onderskeidelik kontak by 073 140 0440 of 074 658 5155.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*