Kuberkrakers knak Swartland Munisipaliteit se sisteme

Kuberkrakers knak Swartland Munisipaliteit se sisteme

Die Swartland Munisipaliteit was oor die naweek van 24 en 25 Oktober slagoffer van ‘n kuberaanval, waardeur ongemagtigde toegang tot sekere van die munisipale rekenaarnetwerke verkry is.
Gelukkig kan ons meedeel dat hierdie sekuriteitsbreuk nie ons finansiële bestuurstelsel raak nie, en dat verbruikers dus gerus kan wees dat hul rekords en persoonlike rekeninginformasie op ons stelsels nie geaffekteer word nie. Die heffing en betaling van rekeninge, asook voorafbetaalde kragverkope gaan soos gewoon voort.
Sekere van ons interne dokumente- en prosesbestuurstelsels wat deur Microsoft- sagteware bedryf word, word egter wel geraak.

Hierdie stelsels is tydelik in die geheel afgesluit om te verhoed dat dit verder gekompromitteer word. Die feit dat ons  tans  nie  toegang  het tot hierdie stelsels nie, beïnvloed wel ons effektiwiteit en produktiwiteit, maar met die hulp  van  kundiges  werk  ons  onverspoosd  om toegang te herwin tot hierdie inligting, ingesluit aan gebeurlikheidsplanne om interim bestuurstelsels te skep.
Totdat ‘n nuwe e-posbediener in werking gestel word, is ons personeelkorps tans ook nie in die posisie om u e-posse te ontvang of op hierdie wyse met u te kommunikeer nie. Indien u dringend met ons wil skakel, kontak ons asb telefonies of per e-pos by ons tydelike adres, synde swartland.mun@gmail.com.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*