Kwekery-kundiges gee raad oor Boomplantmaand

Kwekery-kundiges gee raad oor Boomplantmaand

Dit is alweer September en tradisioneel vir ons Boomplantmaand.
Vir vanjaar (2021) is die volgende bome gekies as boom van die jaar:
1) Vachellia Karroo “Soet Doringboom”
2) Portulacaria Afra “Spekboom”
Indien jy nie een van hierdie spesies kan vind nie, plant enige boom van jou keuse en wat aan jou spesifieke omstandighede en behoeftes kan voldoen. Ons moet onthou die hoofdoel van bome plant is om ‘n groen fabriek daar te skep wat die baie koolsuurgas kan omsit in suurstof en sodoende laat ons ‘n groen voetspoor na.
Wanneer jy ‘n boom (of selfs ‘n groot struik) moet kies om te plant, is daar ‘n paar dinge waarna jy moet kyk:
Hoe groot gaan die boom word. Het ek genoeg plek? Daar is baie bome om van te kies, party groei;
• dun en piramidaal,
• groot en rond
• hoog mat ‘n plat kroon (bv. Doringbome).
Is die boom immergroen of bladwisselend want dit gaan ook bepaal of dit aan jou behoeftes sal voldoen. Indien jy skaduwee in die somer soek en son in die winter (soos bv. voor ‘n venster of skuifdeur wat Noord front) dan sal ‘n bladwisselende boom perfek wees.
Op ‘n grasperk is ‘n bladwisselende boom ook ‘n beter keuse, sodat dit die meeste winterson kan deurlaat, omdat die meeste grasperke nie in skaduwee suksesvol groei nie.
Hoe gaan die boom se wortels die onmiddellike omgewing beïnvloed? Daar bestaan ongelukkig geen waarborg vir enige boom se wortel-groei nie. Boomwortels groei eerstens agter water aan.
Begin deur die plantgat van die boom reg voor te berei, want dit is die boom se fondament (kom kry by die kwekery ‘n pamflet met al die inligting). Gee die boom genoeg water waar dit geplant is, anders gaan hy dit elders met sy wortels soek.
Voorspoed met die uitsoek van jou spesiale boom, lekker tuinmaak. Ons gesels weer 29 September 2021.
Tuingroete en geniet Lentedag!!
George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*