Landbou

Landbou

BEGROTINGSREDE

Watter hulp kan landbou verwag

Die groei wat die landbousektor in 2020 ten spyte van Covid-19 inperkingsregulasies getoon het, bevestig die sektor se onmisbare rol in die ekonomie van die land. Die landbou sal in 2021 voortgaan om geleenthede te gebruik, maar die regering gaan moet help om die kwessies op die tafel wat die volhoubaarheid van die sektor belemmer, aan te spreek.
Nie alle sektore van die landbou het egter in 2020 floreer nie en veral die wynbedryf en die gepaardgaande waardeketting het enorme verliese vanweë inperkingsregulasies gely. Die regering gaan finansiële hulp beskikbaar moet maak om die bedryf op sy voete te help en ‘n sosio-ekonomiese ramp te verhoed.

Die posisie waarin die Land Bank hom bevind, moet dringend aandag kry, en nie net deur aan te hou om geld in ‘n bodemlose put te stort nie. Die bestuur en die struktuur van die instelling moet drasties reggeruk word indien daar hoop is om die Land Bank enigsins weer doeltreffend op dreef te kry. Regeringshulp gaan ook beskikbaar gemaak moet word vir provinsies wat steeds droogtetoestande beleef. In die Wes-Kaap self is groot dele van die provinsie steeds vasgevang in toestande van ramp-afmetings en finansiële ondersteuning deur die regering is dringend nodig en sal verwelkom word.

Dit is nie duidelik waar die regering met die ontbondelingsproses van Eskom trek nie en gegewe ‘n aansienlike verwagte styging in kragtariewe wat ‘n uiters negatiewe impak op die landbousektor gaan hê, sal Agri Wes-Kaap graag wil hoor wat die vordering van die proses is. Agri Wes-Kaap hoop dat die Minister van Finansies kennis neem van die bogenoemde dringende kwessies vir die landbousektor en dat dit in sy komende begrotingsrede aandag sal kry.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*