Liefdesvure brand steeds hoog ná 65 jaar

Izélle Fouché

Die liefde blom nog helder en sterk in die huishouding van die Hattingh-egpaar wat vandag hul 65ste huweliksherdenking vier.
Mnr Koos Hattingh, wat later vanjaar sy 89ste verjaarsdag vier, en Rina Hattingh, wat in Maart haar 84ste verjaarsdag vier, kyk steeds met ‘n glinster in die oog na mekaar, en dit na 65 jaar van getroude lewe saam.
Die egpaar het nie ‘n wenresep nie.
“Nee wat, daar is nie so iets nie. Ons het dit tot nou toe dag vir dag gevat, want elke dag het nuwe uitdagings en bring nuwe dinge,” vertel Mnr Hattingh.
Wanneer Mev Hattingh na hom kyk, is sy verseker dat hy vandag nog haar beste vriend is.
“As hy nie my beste vriend was nie, sou hy nie nou nog hier gesit het nie,” skerts Mev Hattingh.
Die paartjie het mekaar ontmoet toe sy 15 en hy 20 jaar oud was.
“Haar pa was baie streng. So ek het gewag tot sy darem die regte ouderdom was, voor ek begin kuier het.”
Die twee het die spreekwoordelike opsitkers behoorlik aan die brand gehou toe die gekuier begin.
Hulle het mekaar raakgesien op ‘n 21ste verjaarsdagviering.
“My ouers het op daardie stadium weggetrek en ek en my broer was naweke maar alleen. Hy het ‘n meisie gehad, ek nie, so ek het maar tuis gebly. Die een aand toe besluit ek dat ek nou my gaan aantrek en gaan kuier.”
Mnr Hattingh het sy netjieste das aangesit, hom netjies aangetrek en aan haar ouerhuis se deur gaan klop.
“Haar pa het my ingenooi. Haar ma was besig om vissies op die ‘primus’-stofie gaar te maak en ek is genooi om te bly vir ete. Van toe af het ons heerlik gekuier. Ons het nooit uitgegaan en gaan dans of so iets nie. Ons het mekaar altyd by die huis ontmoet en daar gesellig saam verkeer.”
Mnr Hattingh lag as hy sê: “Ek het myself daardie aand ‘n groot guns bewys.”
Die Hattings is getroud en het vyf kinders, waarvan die plaaslike oogkundige, Neels Hattingh, die oudste seun is.
Hy het drie susters en ‘n jonger broer.
Die egpaar het saam geboer en selfs hier was die twee ‘n suksesspan.
“Ek het niks gedoen of enige groot besluite geneem, sonder om haar in die saak te ken nie. Ek het altyd met haar gekonsulteer. Dit is deel van die rede hoekom ons ‘n suksesvolle huwelik het. Ons praat oor alles. Ons is ‘n span.”
Mev Hattingh het die kinders versorg en die melkery behartig.
Hier is daar daagliks 200 gallon melk aan die stadsraad gelewer.
Sy het ook die rekeninge, boeke en die algemene bestuur van die melkery hanteer, terwyl Mnr Hattingh met boontjies, mielies en later beeste geboer het.
Hy het altyd ‘n liefde gehad vir wild en sou graag ‘n wildplaas wou besit.
“Destyds het ek nie skool klaar gemaak nie en ek is spyt daaroor. Maar dis hoe dinge was. My pa, wat self ook geboer het, het hulp op die plaas nodig gehad en ons as kinders moes inspring.”
“Sien jy hierdie merke op my arms?”
Hy wys na sonvlekke op sy bruin arms.
“Hierdie is van jare se harde werk in die son. Ek het nie van die stoep af geboer nie. Ons het hard gewerk vir dit wat ons gehad het,” sê hy trots.
Tussen die twee was Mev Hattingh die strenger ouer en die kinders het soms by hul pa gaan hulp soek.
“Ek onthou die eendag het die twee oudste meisiekinders hulle ma baie vies gemaak. Hulle het by my aangehardloop gekom, met haar kort op hulle hakke. Ek moes toe maar mooi praat. Selfs as ‘n ouerpaar, het ons saamgewerk en as ‘n span saamgespan.”
Vandag is hulle die trotse ouers van vyf kinders, 12 kleinkinders en 7 agterkleinkinders.
Die naweek vier hulle fees en kom selfs die strooimeisie van hulle bruilof, die geleentheid bywoon.
“Hy was vir my nog altyd so ‘n aantreklike man.”
“Sy het net daardie iets spesiaal aan haar gehad, wat gemaak het dat ek haar raaksien.”
Vir die Hattinghs, brand die liefdesvure nog hoog en dit na 65 jaar van getroude lewe.