Malmesbury Kwekery gee raad…veranderde tuinmaaktendense

Malmesbury Kwekery gee raad…veranderde tuinmaaktendense

Oor die afgelope 54 jaar het tuinmaak deur baie verskillende fases gegaan en nog steeds verander dinge so wanneer ek terugkyk dan is ek eintlik verstom.

Tydens die sestiger en begin sewentiger jare was sukkelente die mees populêre plante, dit het bestaan uit vetplante, kaktusse en aalwyne.
In daardie tyd het tuiniers nog nie so baie struike en saailinge (blomplantjies) geplant nie. Tuine was groot, een deel met baie vrugtebome, ‘n ander deel was die groentetuin, soms was daar ‘n groot grasperk met ‘n paar blombeddings rondom en ‘n roosbedding het die tuin afgerond.
Die hele tuin was in reghoeke of vierkantige blokke uitgelê met sementpaadjies tussenin wat met randsteentjies afgerond is.
Hier en daar was daar ‘n groot boom, hibuskusse en bougainvilleas was ook redelik populêr. In hierdie tyd was die algemene houers vir stoep- en huisplante, kleipotte en was bome en struike in kwekerye nog in leë blikke geplant, voordat die eerste plastieksakkies hul verskyning gemaak het.
Vanaf die middel-sewentigs was daar ‘n groter aanvraag vir meer bome en ‘n wyer verskeidenheid struike, groot en klein.
Huisplante het ook meer in aanvraag begin kom soos wat tuiniers begin het om klein binne-tuintjies te skep. In dié jare was asbespotte en houers baie gewild, daar was ‘n groot verskeidenheid fatsoene en vorms, potte wat lyk soos ‘n swaan of reuse skoen-, ‘n gholfbal- of vaatjie-posbus en nog vele ander interessante patrone.
Tot en met hierdie tyd het die Wes-Kaap ook oor geen groothandel kwekerye beskik nie, alle plante is van elders in Suid-Afrika af ingebring met die treine, eers in die laat sewentigs, begin tagtigs het die eerste groothandel-kwekers begin om plaaslik plante te voorsien aan die kleinhandel-kwekerye.
Gedurende die tagtigs en negentigs het daar ‘n groter vraag ontstaan na kleipotte wat vanaf die Oosterse lande ingevoer is.
Daar was ‘n wye verskeidenheid van kleure in klei, “saltglased” en geglasuurde potte. Hier was die patrone en vorms eindeloos.
Tuine het ook begin om ‘n gedaante verwisseling te ondergaan, groot erwe is onderverdeel, die sementpaadjies is opgebreek en beddings het meer vloeibare lyne begin kry.
Met die groot bome wat in tuine meer skadu begin gee het, het tuiniers begin soek na plante en struike wat in koelte kan groei, Clivias, Hydrangeas, Katjiepiering, ens. In hierdie tydperk het blomplantjie saailinge al hoe meer gewild begin word en die aanvraag het geweldig gegroei, in so ‘n mate dat ‘n paar kwekers net hierin gespesialiseer het.
Soos die tyd aanstap, het water duurder en skaarser begin word.
Tuiniers het meer “kompak” begin tuinmaak, meer inheems begin plant en nou begin die sukkelente plante ook weer in aanvraag kom. Met elke droogte tydperk raak houers (potte) meer gewild, daar word meer klippies in tuinuitleg gebruik en paadjies word met plaveiblokke uitgepak of hulle gooi perske- of appelkoospitte.
Daar word al meer van deklaag gebruik gemaak om water te bespaar. Grasperkte word kleiner of verdwyn, so die kinders en Wagter weet nie meer waar om te speel nie.
Ja so sal tuinmaaktendense bly verander soos die tyd aanstap en tuiniers moet aanpas by omstandighede.
Lekker tuinmaak, ons gesels weer op 26 Mei 2021.

Tuingroete
George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*