Malmesbury Lions kyk na impak van kinderkanker

Malmesbury Lions kyk na impak van kinderkanker

Die Malmesbury Lionsklub het Saterdag by ‘n swierige oggendtee na ‘n kenner van kinderkanker, Professor Mariaan Kruger, geluister en gaste is getrakteer deur sekretaris Marius du Plessis in ‘n handjievol van sy eie kledingskeppings.
Prof Kruger, die hoof van die kinderonkologie-afdeling van die Tygerberg-hospitaal, het die gaste toegespreek oor die uitdagings wat hulle as pediatriese onkoloeë in die gesig staar op ‘n daaglikse basis.


Volgens haar is die herstelsyfer vir kinderkanker baie hoog as dit vroeg genoeg gediagnoseer word, maar dat dit ‘n groot impak nie net op die pasiënte het nie, maar ook hul ouers.
“Die kind het ‘n ondersteuningsbasis nodig en ouers speel ‘n integrale rol in die kinders se herstelproses. Dit eis sy tol, want baie gesinne moet dan toutjies trek oor wie na ‘n jonger of ouer boetie of sussie moet kyk. Wie gaan werk? Wie bly by die kind in die hospitaal agter?”
Volgens haar is vervoergelde vir pasiënte wat van ver kom, ‘n groot uitgawe vir die gesinne, maar ondersteun Tygerberg-hospitaal hulle in hierdie aspek.
“Dis hartverskeurend om te sien hoe pasiëntjies soggens 02:00 al op die bussie moet klim om betyds hier te wees vir hul afspraak. Teen daardie tyd het hulle al gemors op hulle klere of het hulle natgereën of kry hulle koud, so ons probeer altyd ekstra klere aan te hou, vir sulke gevalle.
“Kos is ook ‘n groot probleem. Die pasiënt het genoegsame voeding nodig, sodat die lyfie teen die kanker en die behandeling kan sterkstaan, maar daar is nie altyd geld in die gesinne hiervoor nie. Iets soos ‘n lepel grondboontjiebotter is meer as voldoende om ‘n kind vir ‘n hele dag van die nodige proteïene te voorsien wat hy of sy benodig in hierdie proses.”
Volgens haar kry hulle ook baie te doen met werkgewers wat onsensitief is teenoor ‘n werknemer wie se kind ‘n kankerlyer is en word die nodige grasie in werksure nie gegun nie.
Malmesbury se eie kinderarts, Dr Irma Kruger, is een van Professor Kruger se studente en sy het hierdie arts groot lof toegeswaai en is baie beïndruk met haar as pediater.
Die oggend is afgesluit met sekretaris Marius du Plessis se vertoning van sommige van die kledingstukke wat hy met die hand gemaak het.
Elke kledingstuk is vertoon en ‘n kort staaltjie oor elke uitrusting is vertel.

Swartland Joernaal was ook by die oggendtee verteenwoordig, met eetgerei, dekor en eetgoed geskenk deur Peaberry Café, Koffie, O’kasi, Huiswinkels en Futasia Catering.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*