Malmesbury: ‘n Gemeenskap op sy knieë

Malmesbury: ‘n Gemeenskap op sy knieë

Sondag het gemeenskapslede van Malmesbury in Vinkstraat saamgekom en gebid vir veiligheid, bewaring en hoop vir die jeug van dié Swartlandse dorp.
Hierdie bidmiddag is gereel ná misdaad die afgelope paar weke die woonbuurt van Wesbank in sy greep het.
“Dis ‘n lelike situasie. Dit raak al erger. Ons het alle ondersteuning nodig.”
So sê Delian van Schalkwyk, ondervoorsitter van die Malmesbury Gemeenskapspolisiëringsforum.
Van Schalkwyk vertel met ‘n swaar hart van die afgelope paar naweke se voorvalle wat die gemeenskap geruk het.
“Ons gaan moet saamwerk om hierdie sinnelose optrede stop te sit.
“Om ons mense, ons jeug, ons inwoners, te beskerm. Dit kan nie so aangaan nie. êrens sal dit moet stop.”
Dit volg ná ‘n imbizo verlede week by die Swartland-sportkompleks waar die gemeenskap ‘n oop gesprek met die wetstoepassers van die dorp kon hê.
Pastoor Enrico Cloete, wat die gebedsmiddag gelei het, sê “ons weier om te aanvaar dat ons jeug van die dorp vernietig word en dat hierdie die norm word. Ons sal voortgaan om hierteen te veg”.
“Bid asseblief vir hierdie inisiatief.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*