Malmesbury val vas in Vlag-uitdaag

Malmesbury val vas in Vlag-uitdaag

Malmesbury het Saterdag teen alle verwagtinge in teen Edgemead in die WP Vlag-kompetisie hulle rieme behoorlik styf geloop.
Hulle verloor met 2,5-9,5 ná alles moontlik kon verkeerd loop. Eerstens was twee gereelde spelers, Jehan van Niekerk en SG Basson nie beskikbaar nie.
Brian Howell was olik en letterlik uit op sy voete, alhoewel hy deurgedruk het om te speel en tussendeur gesit het in die hoop om beter te voel. En dan was die meerderheid spelers, in dien nie almal nie, van stryk af of net letterlik swak.
Daniël Griebenauw, Marius Huysamen, Lodewyk Lesch en Jeff Petersen het ‘n taai eerste stel wat hulle op die 7 skof met 6-5 in hulle guns beslis. In die tweede stel loop alles verkeerd, hulle gee ‘n 7 af nadat Daniël ‘n opponente-bal teen die witbal speel om die treurmare te begin, en verloor 3-15. Hulle begin die laaste stel met mening en tel 6 op in die eerste skof en wen dit 12-10, maar die slag was ongelukkig klaar gewen en Edgemead kraai 30-21 koning.
Roux Vermeulen, ‘n ongestelde Brian Howell, Altus Myburgh en Rainier van Zyl kom net nie aan die gang nie en verloor die eerste en derde stelle 4-12 en 3-16 onderskeidelik.
Dit sluit in 6 skote op die laaste skof toe selfs die preekstoel nie meer die koeël kon keer nie. Die enigste ligpunt in hulle wedstryd was toe hulle mooi terug geveg het van 4-12 na 11-14 in die tweede stel, maar nie ‘n 3 skoot voorsprong op die laaste skof kon behou nie en met 8 elk gelykop trek. Hulle verloor dus 36-66, volgens Roux een van die grootste pak slae in ‘n lang tyd.
Saterdag is hulle gasheer vir die voorlopers Gordonsbaai en wie weet, dalk is dit net mooi die dag om die 4 punte verskil tussen die twee topspanne uit te wis.
Tuis het die span in die WP Driespel-liga klippe gekou en verloor 1-11 teen Parow. Deon Bosch, Ricardo Rickett en Zelda Jordaan verbeter stelselmatig deur die loop van die wedstryd en verloor die eerste stel 2-11 en die tweede 5-6, voordat hulle die span se enigste punt verdien deur die laaste stel 5-4 te wen.
Dawie Horn, June Rickett en Cobus Vermeulen kry dit net nie reg om deur te breek nie en verloor hulle stelle 3-7, 5-6 en 5-8, nadat hulle 4 op die laaste skof afstaan. Hulle verloor 13-21, en die klub 25-42.
Sondag het die son egter weer geskyn en vyf spanne het deelgeneem aan die WP Parespel-kompetisie, waar vier spanne per afdeling drie wedstryde van 15 skofte elk speel, met die wenners wat deurdring na die uitklopfases.
Dawie Horn en Jeff Petersen wen een en eindig derde in hulle groep.
Deon Bosch en Jehan van Niekerk wen een en eindig laaste, Daniël en Rainier wen twee en eindig tweede, met June Rickett en Tia Petersen wat twee wen en net-net te min punte het om deur te gaan. Vir die eerste keer in jare dring daar weer ‘n span deur met Roux en Lodewyk wat 2 wen en hulle teenstaanders goed afstof met 23-2 en 22-11, ná hulle hulp eerste wedstryd 15-16 verloor.

  • Roux Vermeulen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*