Malmesbury verstewig plek in rolballiga

Malmesbury verstewig plek in rolballiga

Malmesbury se mansrolbalspan het Saterdag sy posisie op die punteleer versterk deur die span van Glen oortuigend tuis te klop. Hulle lê nou in die derde plek.
Die span van Daniël Griebenauw, Marius Huysamen, Lodewyk Lesch en SG Basson begin goed deur 5-0 voor te loop ná 3 skofte en wen die eerste stel 7-3. In die tweede stel toon hulle geen genade nie en verpletter hulle teenstaanders 13-2.
In die derde stel begin Glen druk uit te oefen en met die aanbreek van die laaste skof is Glen 7-5 voor.
Marius speel ‘n skitterende skoot deur die witbal in die sloot te dryf, met Daniël wat koelkop bly en sorg dat sy span 3 skote optel en die stel 8-7 wen en so ook die wedstryd 28-12.
Geoff Chait, ‘n ontwikkelaar van Malmesbury, asook ‘n weldoener in talle ander gemeenskappe, was Daniël se direkte teenstaander, wat sy 80ste verjaarsdag ongelukkig sal onthou as die dag dat hy sleg tweede gekom het.
Die span van Roux Vermeulen, Brian Howell, Altus Myburgh en Rainier van Zyl het deurgaans ‘n taai stryd op hande en moet alles inspan om albei die eerste en tweede stelle 7-5 te wen.
Tydens die derde stel veg die opponente verbete terug en met die aanbreek van die laaste skof, loop Malmesbury 16-15 voor.
Ondanks skitterende spel deur al die spelers, lê Glen net-net die skoot om gelykop te speel 16 elk. Malmesbury wen dus die wedstryd 44-28, en met 10-2 op die punteleer.
Volgens Roux Vermeulen is hy tevrede met die uitslae tot dusver en hoop dat hulle momentum kan behou in die oorblywende 4 wedstryde, met die onervare spelers wat baie goeie ondervinding opdoen.
Die span wat in die WP Driespel-liga speel het tuis ‘n span van Mowbray goed gehou deur uiteindelik gelykop te speel met 40 skote elk en deel die punte 6 elk.
Deon Bosch, Dawie Horn en Henfré Brand lewer goeie spel tydens die eerste stel en tel 9 skote op in twee skofte, om die stel 9-6 te wen. In die tweede stel is die skrif letterlik aan die muur, met Mowbray 11-1 voor na 5 skofte. Malmesbury byt egter die stang behoorlik vas, en tel 6 skote op, net om in die derde stel behoorlik sout in die wonde te begin vryf deur op die 4de en 5de skofte 7 en 3 op te tel.
Malmesbury wen dus 28-22, en verdien 4 punte. Paul Rossouw, Jeff Petersen en Zelda Jordaan verloor 12-18, wat daartoe lei dat die spanne gelykop eindig. Na ń swak begin deur die eerste 2 stelle 2-7 en 3-7 te verloor, raak 7 ń gelukkige nommer vir hulle, want op die laaste skof tel hulle 4 skote op om die stel 7-4 te wen.
Saterdag speel die Vlagspan teen Plumstead en die Trips-span reis na Kuilsrivier.
Intussen het die klub bes moontlik geskiedenis gemaak met hulle nuutste lid wat aangesluit het.
Abu Jimalle is ‘n Somaliër wat al ‘n geruime tyd kom saam rol en nou die daad by die woord gevoeg en ‘n volle lid geword. Hy geniet die vreemde sport, ken al heelwat Afrikaans en Engels en gaan beslis nog goeie rolbal speel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*