Matrieks oor eksamen

Matrieks oor eksamen

Op Woensdag, 27 Oktober 2021, het sowat 897 786 matrikulante met hul finale eksamens begin.
Dit was weer eens ‘n moeilike jaar vir hulle weens die COVID-19 pandemie wat nog steeds allerhande uitdagings meegebring het.
Verskeie gesondheidsprotokolle is by skole in plek gesit en leerders was ook verplig om aanlyn klasse by te woon sodat hulle verlore tyd kon inhaal.
Een van die mees belangrikste eksamens in enige leerder se lewe en die druk is hoog, nie net op hulle nie, maar ook op hul leerkragte.
Om ‘n idee te kry hoe matrikulante tot dusver die eksamen ervaar het ons met van hulle gesels en dit was die terugvoering:

Ruben Slabbert, 18, Hoërskool Swartland, Malmesbury:
‘Tot op hede, het ek 5 vraestelle geskryf. Die vraestelle was nie te moeilik nie, maar as jy nie van jou kant geleer het en bietjie aanlyn klasse bygewoon het vir ekstra hulp nie, gaan dit moeilik wees.
Ek skryf my laaste vraestel op 2 Desember en wil graag in die landbou verder studeer, maar die ander opsie, is om oorsee te gaan werk.’

Cameron Cloete, 18, Wesbank Sekondêr, Malmesbury:
‘Ek het sover 6 vakke geskryf. Om eerlik te wees is dit vir my baie uitdagend en stresvol. Gedurende die jaar, het ek 3 keer positief getoets vir Covid, maar ek het bly glo dat ek dit sal maak deur die Here se genade. Ek wil graag die onderwysers by Wesbank Sekondêr bedank wat ons hoërskool ervaring ekstra spesiaal gemaak het. Vir hulle wat altyd daar was en ekstra klasse aangebied het.
Tans is ek nog onseker oor die beroep wat ek wil volg, maar wil eers net daarop fokus om goed te slaag.’

Kirsty November, 18, Schoonspruit Sekondêr, Malmesbury:
‘Ek het tot dusver 7 vraestelle geskryf. Daar was baie druk op ons omdat ons nie ‘n normale skool jaar gehad het nie. Al my vraestelle het goed afgeloop, maar Wiskunde was vir my moeilik, omdat ons baie werk moes inhaal oor ‘n kort periode. My laaste vraestel skryf ek op 1 Desember.
Ek wil baie graag volgende jaar UWC toe gaan, maar het ook by CPUT aansoek gedoen.’

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*