Michaellie – ‘n Ma se liefde vir leer

Michaellie – ‘n Ma se liefde vir leer

Wat begin het as ‘n soeke na skoene vir ‘n baba se doop, het geëindig in ‘n kreatiewe droom wat bewaarheid is – die geboorte van ‘n nuwe baba, Michaelllies.

Michaellies is die breinkind van Michaelle Smit, ma van drie van Malmesbury.

Met haar en man Emile se seun, Liam, se doop, het Michaelle gaan soek na ‘n paar leerskoentjies vir die kabouter om te dra, maar moes peperduur betaal vir die paar skoene wat net ‘n paar minute aan sy voetjies sou wees.
Dis toe ook net hier wat die idee by Michaelle posgevat het om haar eie reeks te begin en om te probeer om hierdie skoentjies van leer, self te begin maak.

Michaelle was altyd ‘n kreatiewe mens en kan skilder en is ook ‘n kranige fotograaf, iets wat haar twee oudstes by haar geërf het.

“Ek wou die kreatiwiteit laat vloei en ook so ‘n goedkoper alternatief bied vir ander soos ek,” vertel sy.
Sy het die idee egter heeltyd opsy geskuif, want daar was belangriker dinge om op te fokus. Liam is nou net ‘n bietjie ouer as een jaar en haar oudstes is in Graad 10 en Graad 8, so sy het haar hande vol tussen skooltake en huiswerk.
Teen Januarie vanjaar het sy egter besluit dis nou of nooit.

Michaelle stort haar hart in elke paar skoene wat sy van die patroon op die leer aftrek, uitsny, oplyn en aanmekaar stik en verpak.

Vandat die ou dae se “vellies” weer hoogmode is, is dit te sien op talle jongmense se voete en vir Michaelle was die baba-skoentjies iets ekstra-spesiaal en oulik.

“Ek hou nie van ‘n harde sool op ‘n skoen vir ‘n kleintjie wat pas begin loop nie. Harde sole beperk die voetjie se beweging, waar die sagte sool hulle voetjies vrylik en natuurlik laat buig en beweeg.
“Dis die naaste aan kaalvoet wat ‘n kind kan kom en nou met die winter wat om die draai is, is dit die ideale paar skoene vir die nuwe lopertjies onder ons,” vertel sy.

Vir Michaelle is die uitdagendste deel haar tydsbestuur.

“Ek weer meestal op my eie, maar wanneer my seun Thomas tuis is, sal hy help om te sny en hy maak ook die sakkies met die naam van die bestelling en die grootte van die skoentjie.”
Vir haar is dit baie belowend om die eindproduk te sien.

“Om iets vanuit ‘n stukkie ‘off cut’ leer te maak en om dan daarna die fototjies te kry van die outjie of meisietjie met hulle paar Michaellies aan, is geweldig belowend,” vertel sy trots.

Michaelle het het haar patrone aangekoop, maar moes veranderinge aanbring, sodat dit die verskillende tipes voetjies kon pas.
Haar strikdas-patroon het sy egter self ontwerp.
Michaellies word nie net aan die Wes-Kaap-snuiters se voete gevind nie, maar daar is selfs na Pretoria en die Arabiese Emirate gestuur.

“Ek het heelwat kliënte in Upington en Kuruman. Daar is selfs nou ‘n paar op pad na Frankryk.
Wat begin het met twee style, het vinnig gegroei na vier en dit sluit nou ook fopspeen-aanstekers en strikdassies in.
Michaelle beoog om later vanjaar nog ‘n nuwe styl bekend te stel en om ook materiaal met die leer te kombineer om ‘n groter verskeidenheid te kan bied.

Haar dogter, Alexa, het haar eendag gevra wat sy nog altyd wou doen en dit het toe by haar opgekom dat sy op skool graag ‘n mode-ontwerper wou wees.

Volgens haar is haar ma nou op die regte pad en begin sy haar besigheid in sy babaskoene.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*