“Moenie toelaat dat omstandighede jou definieer,” sê kunstenaar Willem Vries

“Moenie toelaat dat omstandighede jou definieer,” sê kunstenaar Willem Vries

Jana du Plessis Muller

Gebore in 1982 op Moorreesburg, Willem Vries is ’n kunstenaar met ’n doelwit en ’n ligtheid wat duidelik gesien kan word in sy kunswerke en sy menswees. Maar hierdie nederige Riebeek-Wes-inwoner het met toewyding en harde werk daarin geslaag om die donker skaduwees van sy verlede hok te slaan en uiteindelik sy doelwitte te bereik. Nie net is Vries vandag ’n kunstenaar wat raakgesien en plaaslik ondersteun word nie, maar hy deel ook graag sy vaardighede met ander.
“Die enigste goeie skaduwee uit my kinderjare wat my steeds volg – en wat ek verwelkom – is kuns,” vertel Vries waar ons gesels by Gallery 7 on Plein op Riebeek-Kasteel. Vries se werke word gereeld tentoongestel by die gallery. “Dit was altyd my droom om eendag my kuns in ’n gallery te sien hang en vandag het Gallery 7 my hierdie geleentheid gegee. Ek is baie bevoorreg.”
Nooit sou die jong Willem Vries kon dink dat sy werk eendag deur gallerybesoekers gekoop sou word nie. Armoede en geweld was deel van Vries se grootwordjare en as kind het hy geteken om van sy omstandighede te probeer ontsnap.
“Ek het op enige iets geteken – van borde tot mure – en op skool het ek onbewustelik aanhou om te krap, krap, krap en nie tóé besef dat ek eintlik besig was om my kunsstyl te verken nie.”
Al het die omstandighede hom so gedruk dat hy gevoel het hy wil kuns los, het hy aangehou, maak nie saak hoe swaar dit geraak het nie. Van verbeteringskool na gevangenis, het Vries aanhou teken waar hy homself ook al bevind het. “Kuns was soos ’n skaduwee wat my oral waar ek gegaan het, gevolg het, maar ek het dit eers jare later ernstig begin opneem.”
’n Kennis van Engeland het Vries se potensiaal raakgesien en vir sewe jaar ’n pad met hom gestap. Sy het haar kennis met Vries gedeel en hom aangespoor om sy vaardighede te ontwikkel. “Ek was desperaat om verder te leer, maar die proses was vir my te stadig,” sê hy, “Toe ek saam met hierdie kunstenaar begin leer het, het dinge uiteindelik vir my in ’n rigting begin beweeg. ’n Nuwe prentjie het vir my oopgegaan.”
Deel van hierdie prentjie was ’n geloofsontwaking sowel as ’n ontdekking van sy liefde vir die natuur. Hy vind sy rustigheid en inspirasie in die kleure en teksture van die natuur en sien dit as sy beginpunt. “Die natuur is my eerste vegveld omdat ek so connected daaraan voel. Die landskap bring vir my vreugde en vrede, want dit doen my geen leed of skaad nie. Dit bied my ’n skoon veld om die emosie waarmee ek struggle vry te laat.”
Vries en sy vrou Glenda het ook ’n groot liefde vir mishandelde diere en hulle help graag in die gemeenskap om mense te leer hoe om hul troeteldiere te versorg. Dit is juis hierdie passie om ander te leer wat Vries nou wil ontgin om ’n pad met ander te stap. “Dis belangrik om iemand op sy vlak te ontmoet en ’n pad geduldig met hom of haar te stap. Nie almal se journey is dieselfde nie, en dis net deur liefde en respek wat ek ander gaan bereik,” sê Vries.
Nederigheid en ’n stil kalmte omring Vries en so ook sy skilderye wat onopgesmuk teen die mure van Gallery 7 hang. “Dit is die krag van God wat my lewe kom verander het en gehelp het dat ek deur kuns vrede kon maak met my verlede,” sê Vries. Dis vir hom belangrik om ’n positiewe boodskap aan die kyker oor te dra en hulle só in sy wêreld te verwelkom.
As gevolg van sy sterk geloof en die mense wat in hom glo het Willem Vries daarin geslaag om sy lewe om te draai en hy glo as hy dit kon doen, kan ’n ander ook.
Vir meer inligting, volg ‘The Frozen Page by artist Willem Vries’ op Facebook.

  • Gallery 7 on Plein is in 2019 geloods deur Riebeekvallei Toerisme as ’n inisiatief om kunswerke van studente en opkomende plaaslike kunstenaars bloot te stel aan die publiek met kurator Zani Brits aan die stuur.
    Die span by die toerismekantoor onthou ’n spesifieke geleentheid toe ’n 12-jarige meisie een van Vries se kunswerke raakgesien het. Dit was 24 Desember 2021 en die jongmeisie kon ’n kunswerk kies as Kersfeesgeskenk.
    “Sy het een keer deur die gallery gestap om na al die kunswerke te kyk en het dadelik na Willem Vries se kunswerk teruggekeer,” vertel Ann Heyns van Riebeekvallei Toerisme. “Die kunswerk was ’n landskap van sneeubedekte berge met ’n woud in die voorgrond en ’n klein huisie in die woud. Die meisie se ouers was geskei en toe ek haar vra hoekom sy die spesifieke kunswerk gekies het, het sy gesê dis omdat sy haarself – eendag wanneer sy groot is – visualiseer in daardie huisie in die woud. Sy het ’n maand later teruggekeer en ’n tweede Willem Vries skildery kom koop. Een vir elke huis waar sy woon.”
    “Dis belangrik om plaaslik te ondersteun en ek wil regtig ander aanmoedig om dit ook te doen. Ons kunstenaars het dit nodig,” sê Willem Vries.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*