Mossie Begrafnisdienste vier 10 jaar

Mossie Begrafnisdienste vier 10 jaar

Mossie Begrafnisdienste het Maandag hul tiende verjaarsdag gevier en dié begrafnisonderneming gaan steeds van krag tot krag.
Hulle pas aan, brei uit, bied nuwe dienste, maar die grondslag by dieselfde – deernis vir naasbestaandes wanneer die dood intree.
Mossie Begrafnisdienste is ‘n familie-onderneming, maar met ‘n bietjie van ‘n verskil.
Mossie en sy seun Jacques staan wel aan die stuur van sake, maar Jacques se verloofde, Genene, het onlangs by die groep aangesluit as administratiewe beampte.
Jacques se twee kinders, Melzaan en Caleb, help ook uit met takies, en Mossie se vrou, Marietjie, ondersteun die Mostert-familie in hul daaglikse bestuur van dié onderneming.
Sy oudste seun, Nico, en sy vrou Natasha, is ook op die agtergrond baie betrokke by die besigheid.
Die besigheid het ook onlangs van perseel verander, toe hulle uitgebrei en ‘n meer omvattende diens begin aanbied het. Dit het onder andere ‘n kapel ingesluit. ‘n Dekade gelede, op 31 Maart 2012, het Mostert die kantoor van Doves Malmesbury verlaat om op pensioen te gaan, maar het vier maande later op 14 Augustus 2012 sy eie onderneming, Mossie Begrafnisdienste, in Truterstraat 6 op Malmesbury begin.
Ses jaar later, ná hulle hul babaskoene ontgroei het, het die onderneming na Pleinstraat 3 geskuif – die voormalige kantore van Doves Malmesbury.
Waar hulle aanvanklik in Augustus 2012 afgeskop het met ‘n personeel van 2, het hulle uitgebrei na 3 in November van daardie jaar en op 1 Februarie 2014 het sy seun Jacques, by die onderneming aangesluit. Vandat Jacques by die onderneming is, het Mossie Begrafnisdienste ook begin om hul eie programme en boekmerkies te maak.
Jacques het ook in 2018 ‘n balsem-kursus voltooi, wat deur die NFDA aangebied is.
In 2020, met die koms van Covid-19, het die tradisionele begrafnis skielik plek gemaak vir ‘n
nuwe alternatief. Een waar minder mense die diens kon bywoon, waar familie gesoek het na ‘n kleiner perseel en waar ekstra dienste soos die beeldsending van ‘n diens, die lig gesien het.
“Ons moes met al die nuwe reëls en regulasies anders begin kyk na begrafnisse en
verassingsdienste. Daar het ‘n groot behoefte ontstaan vir ‘n perseel waar ‘n klein groepie mense kan afskeid neem. Dus was en is daar steeds ‘n behoefte vir ‘n kapel.”
‘n Kapel was nog altyd deel van Mostert se visie vir die onderneming – selfs voor die intree van die Covid19-regulasies.
Ná beplanninge, moontlikhede en skuiwe, het ‘n perseel hom voorgedoen wat ideaal geskik is om van Mostert se droom ‘n waarheid te maak.
Die perseel in Dr Euvrardstraat 21, voorheen die kerkgegou van die Coram Deo-gemeente, was beskikbaar en perfek geskik vir dit wat Mostert nog al die jare wou hê.
Mossie Begrafnisdienste verhuis dan van einde Mei 2021 na hierdie nuwe perseel, waar hulle hul bestaande en ook nuwe dienste aanbied.
Dit was nie ‘n droom wat oornag bewaarheid is nie, maar het harde en toegewyde werk gekos Mostert is dankbaar vir die ondersteuning wat hy en die onderneming vanuit die gemeenskap ontvang.
Mossie Begrafnisdienste bied die volgende dienste: Verwydering, berging, diens, programme, boekmerkies, beeldsend en vele meer.
Teen ‘n minimale koste kan ‘n maatskappy ook op die TV-skerm in die ontvangs hul onderneming adverteer en kliënte oor die hele Wes-Kaap word deur Mossie Begrafnisdienste bedien.
Hul leuse is nie verniet “Dienste met ‘n verskil” nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*