Munisipaliteit oorhandig titelaktes in Riebeekvallei

Munisipaliteit oorhandig titelaktes in Riebeekvallei

Uitvoerende Burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, raadsheer Tijmen van Essen en raadslid Nicolene Smit het die afgelope week titelaktes aan inwoners op Riebeek-Wes oorhandig. Hierdie titelaktes is deel van ‘n behuisingsprojek wat in November 2019 voltooi is. Die oordrag van die titelaktes was egter vertraag as gevolg van COVID-19.
Van Essen en Smit het deur tot deur gegaan en 12 titelaktes aan begunstigdes oorhandig. Altesaam 228 aktes is reeds aan begunstigdes oorhandig. Die projek bestaan uit 244 huise en die totale waarde van hierdie behuisingsprojek beloop meer as R34 miljoen. Die meerderheid begunstigdes woon reeds in hul nuwe huise en soos die titelakteproses afgehandel word, word die eienaarskap oorgedra. Die eerste titelakte is Maandag aan Louisa Joubert (73) oorhandig. Sy het vertel hoe sy in 2019 op haar verjaarsdag in haar nuwe huis kon intrek.
Van Essen het beklemtoon hoe belangrik dit is dat inwoners hul nuwe huise moet oppas en hul aktes veilig bewaar.
“Elke inwoner wat ‘˜n titelakte ontvang, moet weet dat daar nie weer so ‘n geleentheid gaan wees nie. Dit is nou elke eienaar se verantwoordelikheid om na hul huis om te sien en die potensiaal te ontgin. Eienaarskap gee gemoedsrus en sekerheid vir die toekoms.”
Smit het bygevoeg dat dit verblydend is om te sien hoeveel trots die inwoners reeds in hul nuwe buurt wys met al die toevoegings en inisiatief wat hulle geneem het met die plant van nuwe tuine en verfraaiings van hul huise en erwe.
Swartland Munisipaliteit is daartoe verbind om eienaarskap aan alle begunstigdes te gee. Anders as in baie ander munisipaliteite, word daar gefokus om titelaktes so gou moontlik oor te dra wanneer projekte voltooi word. Hulle is tans besig om meer as 400 titelaktes te finaliseer vir die oordrag van gedienste erwe en gaan dit ook in die nabye toekoms aan die nuwe eienaars oorhandig. “Eienaarskap skep bemagtiging en dit is deel van ons belegging in die toekoms van ons gemeenskappe.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*