‘n Gemeenskap wat saam bid

‘n Gemeenskap wat saam bid

HOPEFIELD – Die gemeenskap van Hopefield het onlangs ’n gebedsaamtrek teen geweld op plase gehou by Hoërskool Hopefield se sportterrein.
Die kleinboere wes van Hopefield het by Die Plaasmol bymekaar gekom, waarna hulle aangesluit het by die dorpsmense wat in die middedorp byeen gekom het. Almal het vandaar af Koperfontein toe vertrek waar die kommersiële landbouers en werkers reeds saamgetrek het.
Die hele stoet van trekkers, stropers, landbou-implemente, bakkies, motorfietse en motors het van hier af Hopefield toe vertrek en deur die dorp gery tot by die sportterrein. Die prosessie is voorafgegaan met ’n interkerklike erediens.
By die sportterrein, waar mans, vrouens, kinders en sommer ook honde van die gemeenskap bymekaar gekom het, is geleentheid gegee om te bid vir vrede in die land, dat daar ’n einde sal kom aan die geweld, veral op plase, en ook vir meer betrokkenheid van kerke en owerhede.
Die voorsitter van die Hopefield Landbouvereniging, Olivier Slabber, het die dag as geseënd beskryf en was dankbaar vir die geleentheid dat die gemeenskap saam kon bid. ’n Soortgelyke geleentheid vir volgende jaar is nie uitgesluit nie.
Die medewerker vir die dag se verrigtinge was Niels Nilsson, die videograwe Niels Nilsson jnr en Gene Tatham en die fotograaf Gerda Nilsson.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*