‘n Liefde vir rugby

‘n Liefde vir rugby

Rugby is ‘n wêreld op sy eie. ‘n Plek waar wedstryde van jare gelede gereeld steeds in die geestesoog afspeel…
By die Joernaal is ons rugby-liefhebbers, maar onlangs het Willem du Preez en Henfré Brand Snr ons oë oopgemaak tot die magdom geskiedenis wat in rugby opgesluit lê.
Willem du Preez van Pretoria is een van die grootste versamelaars van rugby-memorabilia in Suid-Afrika.
Hy is na oorlewering met ‘n rugbybal in sy hande gebore en van kleins af het hy rugby geslaap, geëet en gespeel. Weens ‘n akute nekbesering kon hy nooit die sport professioneel beoefen nie, maar dit het hom geensins teruggehou.
Die Laeveld is waar hy aktief sy liefde vir rugby uitgeleef het en Willem het tot op 53-jarige ouderdom vir die span ‘Die Gryskatte’ gespeel.
Dit was egter in 1999 by ‘n Puma-afsluitingfunksie op Witbank dat die versamelaarsgogga hom amptelik gebyt het.
‘n Geselsie met Grant Bartle en ‘n getekende trui later, het die spreekwoordelike ‘wiele’ aan die rol gesit.
Sy versameling sluit ‘n magdom items in… Van truie, stewels, baadjies en boeke, alles behalwe die spelers se onderbroeke.
Dit is dus glad nie verbasend dat hy al op die aktuele geselsprogram ‘Kwêla’ verskyn het nie.
‘n Knop in die keel ontwikkel toe Willem noem dat hy ook Joost van der Westhuizen se laaste vyf truie besit wat hy geruil het met die 5-nasie span.
Die geskiedenis wat in hierdie versameling lê, is onmeetbaar en Willem se visie is om eendag ‘n museum oop te maak. Met die hoop dat hy die voorreg sal hê om dit self te bestuur.
Dit is juis die passie vir rugby, asook die gemeenskaplike liefde vir die geskiedenis van dié sport, wat hom en Henfré Brand Snr se paadjies laat kruis het.
Henfré, is ‘n bekende inwoner van Malmesbury en ook rugbykringe. Weens sy jarelange verbintenis aan Boland-rugby, is dit vanselfsprekend dat hy self ook ‘n groot versamelaar is.
Henfré en Willem het aanvanklik op ‘Facebook’ ontmoet. Dit wil voorkom asof hy meer vir Willem ‘gestalk’ het.
Toe Henfré besef wie Willem regtig is, het hy besluit om dadelik ‘n ontmoeting te reël.
Met ‘n belofte om truie te ruil, maar dat Willem dit self moet kom haal, was die spreekwoordelike ‘koeël’ deur die kerk en so het Willem op Malmesbury beland. ‘n Ander trekpleister was natuurlik die geleentheid om rugby-staaltjies met mekaar te deel.
Ons was bevoorreg om saam met dié twee rugby-fundi’s koffie te drink en die taal was rugby. Die atmosfeer gevul met entoesiasme en die liefde wat hulle vir rugby deel.
Willem is van nuuts af opgewonde, aangesien Henfré hom nou aan Boland-rugby bekendgestel het. Hy noem dat hy nooit besef het dat rugby so groot en so geliefd is aan hierdie kant van die wêreld nie.
Willem beoog nou om elke klub na te slaan wat deel uitmaak van die Boland Rugby-unie.
Op hede is daar 213 klubs, maar dit behoort seker nie te moeilik te wees om 213 klubs se truie en sakwapens te bekom nie.
Veral nie as jy iemand soos Henfré Brand ken, wat vir baie jare die stadium bestuurder van Boland-rugby was, en dus nog baie kontakte in daardie kringe het nie.
‘n Band van vriendskap is duidelik gesmee. Bykans onmoontlik om te glo dat hierdie twee mense slegs twee dae gelede ontmoet het.
En dat dit alles begin het deur ‘n gemeenskaplike liefde vir rugby, asook om die geskiedenis van die sport vas te vang, sodat dit vir altyd behoue kan bly.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*