‘n Nuwe begin in Riebeek-Wes

‘n Nuwe begin in Riebeek-Wes

• Jana du Plessis Müller

By Voortrekkerstraat 21 is daar ’n nuwe begin te sien in die gestalte van die Twintig 21 Nuwe Begin-sentrum wat eersdaags sy deure vir die publiek open.
Die aangrensende besigheid, Riebeek-Wes Garage – insluitende die welbekende Engen vulstasie en motorwerkswinkel – het in 2021 sy vyftigste bestaansjaar gevier met die afskop van die bouprojek.
“Die projek simboliseer nie net ’n nuwe begin vir ons nie, maar ook vir Riebeek-Wes en die gemeenskap hier,” sê eienaar Ella Blom.
Saam met Willem Coetsee het hulle die projek in 2021 van stapel gestuur met die oorhoofse doel om by te dra tot die transformasie van die dorp.
“Die naam van die sentrum spreek vanself oor iets nuut en vars,” voeg Coetsee by. “Met die onlangse verbeteringe in die dorp is die tyd ryp om voort te bou op die ‘nuut-maak’ van die dorp.” Die sentrum beoog nie net ’n nuwe begin vir die onmiddellike huurders en hulle besighede nie, maar ook vir bestaande besighede met die visie om heelwat voete na die aantreklike gebou te lok en sodoende die aandag op Riebeek Wes as dorp in sy geheel te fokus.
“Riebeek-Wes is ’n besigheidsdorpie waar die gemeenskap en omliggende boere hulle sake in die dorp kom doen en die koöperasie besoek, en dis hierdie insig wat ons in gedagte gehou het toe ons besluit het met watter besighede en huurders ons hande gaan vat,” sê Coetsee.
Dis nie net die besigheidsektor wat aan ’t verander is nie, maar die eiendomsmark sien ook groei. “Daar is heelwat beweging in die vallei; in beide Riebeek Wes en Kasteel kry ons gereeld navraag na eiendom,” sê Rainier Fourie van Pam Golding Riebeek Vallei. “Van Durban tot Dubai het nuwe eienaars onlangs behuising sowel as land aangekoop. Dis mense wat ’n ander lewenstyl soek weg van die stede – die country life wat die vallei bied is vir hulle aanloklik.”
Vir Ella Blom en Willem Coetsee is dit belangrik dat die Twintig 21 Nuwe Begin Sentrum besighede lok wat hulle visie deel. “Dit moet dienste of produkte bied wat deur die gemeenskap benodig word, en terselfdertyd moet die besighede die gemeenskap ondersteun deur dít wat hulle bied,” sê Coetsee.
Die groot wit gebou, eg aan die country life-gevoel, het soos ’n piek uitgerys in die hartjie van die besigheidskern van Riebeek-Wes – gereed om die gemeenskap te bedien.
Volg Twintig 21 Nuwe Begin Sentrum op Facebook vir meer inligting.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*