Nasionale toernooi bekendgestel

Nasionale toernooi bekendgestel

“Sport is die voertuig om baie van ons land se probleme uit te sorteer.”

Dit was Donderdagaand die boodskap toe die Malmesbury Toutrekklub die amptelike bekendstelling gedoen het van die nasionale junior toutrekkampioenskap wat van 26 tot 28 Maart 2021 op Malmesbury plaasvind.

Dit word gesamentlik deur die plaaslike toutrekklub en Malmesbury Landbougenootskap gereël.

“Wanneer ‘n dorp se munisipaliteit en sakemanne saamwerk om honderde toutrekspanne en hul gesinne van regoor die land te ontvang, kan dit die dorp ‘op die verhoog plaas’,” het die sakemanne wat die funksie bygewoon het, gehoor.

So ‘n kampioenskap lok jaarliks 5 000 tot 8 000 besoekers. ‘n Nuutjie by die 2021-byeenkoms is die laaste dag se kragmeting, wanneer internasionale spanne teen die sterkste SA-juniors van die byeenkoms sal kompeteer.

Die kameraderie, kultuur en dissipline van toutrek as spansport, asook die fiksheid wat toutrek meebring sodat deelnemers rég is wanneer wintersport kort daarna volg, is ook belig.

“Sedert 2000 het toutrek op plattelandse dorpe begin groei. Malmesbury is bevoorreg om uiters kundige mense in die toutrekbedryf te hê – manne soos Bennie Geldenhuys, Erhard Buhr en ander oud-nasionale trekkers wat nog steeds die sport aktief bevorder,” sê Rentia van den Berg, voorsitter van die Malmesbury Toutrekklub.

“Ons klub het in 2017 weer aktief geraak met junior- en seniortoutrekkers. Selfs sesjariges trek ywerig saam.”

Daar word ‘n beroep gedoen op alle besighede en individue wat by hierdie groot geleentheid op die Malmesbury-kalender betrokke wil raak – hetsy as borg, finansieel of in dienste-kapasiteit – om vir Rentia (060 508 5144) of Bennie Geldenhuys (083 412 3069) te skakel.

• Het jy geweet? Toutrek word wêreldwyd as dié top-amateursport gereken. Die heel eerste spansport wat Suid-Afrika na die Olimpiese Spele gestuur het, was ‘n toutrekspan in Augustus 1920.

•Sarie Nell