Nel en span op pad na CrossFit-spele

Nel en span op pad na CrossFit-spele

Lize Nel, oud-Rockie en inwoner van Malmesbury, neem eersdaags aan die CrossFit-wêreldkampioenskappe in Madison, Wisconsin in Amerika deel van 3 tot 8 Augustus.
Haar span, wat bestaan uit haarself, haar eggenoot Damian Burns, Jaco Brits en Mariska Smit, is die enigste span van Afrika wat hiervoor kon kwalifiseer.
Mariska is ook die kontinent se fiksste vrou.
Die kombinasie is die mees ervare span wat Suid-Afrika nog by dié spele verteenwoordig het.
Lize het aan dié sportsoort begin deelneem in 2013, toe sy op universiteit was.
“Nadat ek ophou aan skoolsport deelneem het, was daar ‘n leemte en draf of gewone gym, het nie vir my die satisfaksie gegee nie. Ek het ook ‘n paar kilogram opgetel en toe ontdek ek CrossFit. Dit was toe nog ‘n nuwe sport in SA, maar ek was onmiddellik mal daaroor. Elke dag was ‘n nuwe challenge en ek kon my kompeterende kant uitleef en weer aan spansport deelneem. Damian het op universiteit rugby gespeel en toe liggaamsbou gedoen. Nadat ons ontmoet het in 2018, het ek hom in 2019 uiteindelik oorreed om dit te probeer. Nes ek, was hy onmiddellik mal daaroor en kon weer al sy spansport drome uitleef.”
Vir Lize is die sport opwindend en uitdagend.
“Elke dag is anders. Dit raak nooit vervelig nie. Daar is ook ‘n groot sosiale aspek.
“Alles vind plaas in ‘n klas-formaat, so jy gesels, lag en kry saam swaar met die ander mense met wie jy iets in gemeen het. Almal is ook welkom.
“Maak nie saak van jou ouderdom of liggaamsbou nie,” vertel sy.
Volgens Lize het dit haar geleer hoe om swaar te kry en steeds vas te byt.
“Dit het my geleer dat jy enigiets kan regkry as jy die werk insit. Dit het ook vir my baie selfvertroue gegee – ek voel goed oor myself so dit verbeter my sosiale asook my professionele lewe.”
Die CrossFit-seisoen begin met die Ope wat uit drie oefensessies bestaan wat strek oor drie weke in Februarie.
Hier het hulle die eersteplek as ‘n span behaal.
Dit is aanlyn en enigiemand kan daaraan deelneem. Daar was vanjaar 300 000 deelnemers wêreldwyd wat hieraan deelgeneem het.
Daarna word slegs die top 10% gekeur om deur te dring na die kwarteindstryd om sodoende te probeer kwalifiseer vir die semi-finaal. Hier word slegs die top 20 mans, vroue en spanne toegelaat.
Hier het dié span ook die eerste plek behaal.
Verlede naweek het die span aan die semi-finaal in Stellenbosch op Coetzenburg deelgeneem.
Oor die drie dae moes hulle ses oefensessies doen wat fiksheid, krag, gimnastiek, spanwerk en meer getoets het.
Die span met die meeste punte aan die einde van die naweek, is die wenner.
Wêreldwyd is daar net 40 mans, vroue en spanne wat deelneem vir die wêreldspele.
Die sport is nog relatief nuut in Suid-Afrika en geniet nie baie blootstelling nie.
Daarom het die span ook nie borge om hul finansieel te ondersteun in hul tog na Amerika nie.
Om hier te gaan deelneem, kos elke deelnemer sowat R60 000.
“Dit moet uit ons elkeen se eie sak kom, so enige hulp en ondersteuning is baie welkom!”
Die groep oefen tans by Time2Train op Malmesbury en CrossFit Commit Okavango in Brackenfell.
“CrossFit se doel om fiks, sterk en gesond te word en jou alledaagse lewe te verbeter.
Crossfit is ‘n krag- en kondisioneringsprogram wat verskillende style in een oefensessie kombineer. Ons kombineer byvoorbeeld die beste van gimnastiek, kettlebell/dumbbell-oefening, Olimpic weightlifting, powerlifting en allerhande uithouvermoë-oefeninge.
“Danksy hierdie wye verskeidenheid bewegings verbeter ons al 10 sones van ons fiksheid. Die doel is om nie te spesialiseer nie. Deur die mees algemene fiksheid moontlik ontwikkel, berei jy jouself voor vir watter taak ook al op jou wag,” vertel Lize.
Die groep word afgerig deur Gerhard van der Merwe van CrossFit PBM in Pretoria.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*