‘Nierversaking was die beste ding wat met my kon gebeur’

‘Nierversaking was die beste ding wat met my kon gebeur’

Bradley Arendse, die fietsryer van Malmesbury wat trap met ‘n nier wat uit ‘n ‘cooler’ boks gehaal is, is reg vir groter uitdagings.
Vir Bradley was die afgelope twee jaar ná sy nieroorplanting een waarin hy en sy emosies baie wipplank gery het, maar hy is dankbaar vir sy hernude gesondheid en gesonde uitkyk oor die lewe.
“Die kersie op die koek was toe ek terug kon keer werk toe, ná ek in Mei 2017 ongeskik verklaar is.
“Op daardie stadium het die nierversaking geweldige stres op my hart gesit en klein bloedklonte het op my longe gesit. Dit het dit moeilik gemaak om asem te haal en te beweeg.”
Ná sy nieroorplanting het dinge stelselmatig begin verbeter.
“My gesondheid het geweldig verbeter. Die gedagte dat ek met een voet in die graf gestaan het, spook gereeld by my en dit is een van die groot dryfvere agter my aansporing om in die beste vorm van my lewe te wees. Die komitee van die Nasionale Oorplantingspan het die potensiaal in my raakgesien, my genader en ek kan vandag met trots noem dat ek as atleet by die SA Oorplantingspan geregistreer is.”
Bradley gaan eersdaags deelneem in Qbergha aan die nasionale spele om ‘n plek los te ry en hardloop om Suid-Afrika aanstaande jaar in Sydney, Australië, te verteenwoordig.
Bradley sou nooit kon dink dat hy sy voete op ‘n tartanbaan sou neersit nie, want voor sy operasie en siekte was hy nooit ‘n atleet nie.
Hy het wel besef dat hy homself en sy lyf gesond moet kry en het begin fiets ry.
Nou gaan hy deelneem aan die 100m, 400m en moontlik die 1500m-items. Hy gaan ook aan fietsry-items deelneem en moontlik ook verspring en hoogspring.
Vir Bradley was die nierversaking die beste ding wat met hom kon gebeur.
“Dit het my besef wat werklik belangrik is in die lewe. Die kleine dingetjies wat elke dag moontlik maak en my liefde vir die lewe was geopenbaar. Ek geniet elke dag ten volle en tot die uiterste. My uitkyk op die lewe is helder en ek het ook geleer dat dit soos ‘n battery is. Daar moet ‘n positief en ‘n negatief wees om te funksioneer.
“Balans.”
Bradley oefen drie dae per week in die gimnasium.
Hy draf dan vir twee dae en oor naweke ry hy fiets.
“Ek draf enigiets tussen 5 en 15 kilometer. Ek kan met eerlikheid sê my fiksheid is op ‘n goeie vlak, maar dit kan altyd net beter.”
Bradley voel bevoorreg om te kan deelneem aan die Nasionale Spele in Julie.
“Dit gee my die kans om eer te bied aan my skenker en te kan wys wat orgaan skenking kan doen. Sonder n nier oorplanting sou ek nie hier vandag kon staan nie, nietemin eers hardloop of fiets ry nie. Dit bied my die geleentheid om te wys hoe dankbaar ek is vir my tweede kans op lewe en dat ek elke oomblik geniet en al my kanse met beide hande gryp.”
“Oh, en ek is baie bly ek hoef nie meer vir dialiste te gaan nie,” sê hy opgewonde.
Enige instansies of persone wat Bradley wil borg of wil ondersteun kan Vivian De Klerk by die Cape Transplant Sports Association kontak by 079 523 4026, of chair@wctsa.org.za of hom direk by 079 606 3688. Besoek die webtuiste by www.transplantsports.org.za.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*