Nuwe begin in nuwe perseel vir Mossie Begrafnisdienste

Nuwe begin in nuwe perseel vir Mossie Begrafnisdienste

Mossie Begrafnisdienste verskuif na ‘n splinternuwe perseel en bied nou ook ‘n omvattende diens wat ‘n kapel sal insluit.
Mossie Mostert, eienaar van Mossie Begrafnisdienste is baie opgewonde oor die skuif en ook die nuwe toevoeging tot die dienste wat hulle bied.


Nege jaar gelede, op 31 Maart 2012, het Mostert die kantoor van Doves Malmesbury verlaat om op pensioen te gaan, maar het vier maande later op 14 Augustus 2012 sy eie onderneming, Mossie Begrafnisdienste, in Truterstraat 6 op Malmesbury begin.
Ses jaar later, ná hulle hul babaskoene ontgroei het, het die onderneming na Pleinstraat 3 geskuif – die voormalige kantore van Doves Malmesbury.
Waar hulle aanvanklik in Augustus 2012 afgeskop het met ‘n personeel van 2, het hulle uitgebrei na 3 in November van daardie jaar en op 1 Februarie 2014 het sy seun Jacques, by die onderneming aangesluit.
Vandat Jacques by die onderneming is, het Mossie Begrafnisdienste ook begin om hul eie programme en boekmerkies te maak.
Jacques het ook in 2018 ‘n balsem-kursus voltooi, wat deur die NFDA aangebied is.
In 2020, met die koms van Covid-19, het die tradisionele begrafnis skielik plek gemaak vir ‘n nuwe alternatief. Een waar minder mense die diens kon bywoon, waar familie gesoek het na ‘n kleiner perseel en waar ekstra dienste soos die beeldsending van ‘n diens, die lig gesien het.
“Ons moes met al die nuwe reëls en regulasies anders begin kyk na begrafnisse en verassingsdienste. Daar het ‘n groot behoefte ontstaan vir ‘n perseel waar ‘n klein groepie mense kan afskeid neem. Dus was en is daar steeds ‘n behoefte vir ‘n kapel.”
‘n Kapel was nog altyd deel van Mostert se visie vir die onderneming – selfs voor die intree van die Covid19-regulasies.
Ná beplanninge, moontlikhede en skuiwe, het ‘n perseel hom voorgedoen wat ideaal geskik is om van Mostert se droom ‘n waarheid te maak.
Die perseel in Dr Euvrardstraat 21, voorheen die kerkgegou van die Coram Deo-gemeente, was beskikbaar en perfek geskik vir dit wat Mostert nog al die jare wou hê.
Mossie Begrafnisdienste verhuis dan van einde Mei na hierdie nuwe perseel, waar hulle hul bestaande en ook nuwe dienste sal bied.
Hierdie droom is nie oornag bewaarheid nie, maar het harde en toegewyde werk gekos Mostert is dankbaar vir die ondersteuning wat hy en die onderneming vanuit die gemeenskap ontvang.
“Eerstens wil ek ons Hemelse Vader al die eer gee vir Sy groot genade en voorsiening. Dan wil ek ook langs hierdie weg vir al ons kliënte in die Swartland, asook ons geestelike leiers en mediese personeel, bedank vir al die ondersteuning oor die afgelope agt en ‘n half jaar. Sonder julle sou ons nie kon vermag nie en ons eer julle daarvoor,” vertel Mostert opgewonde vanuit sy kantoor.
Mossie Begrafnisdienste bied die volgende dienste: Verwydering, berging, diens, programme, boekmerkies, beeldsend en vele meer.
Teen ‘n minimale koste kan ‘n maatskappy ook op die TV-skerm in die ontvangs hul onderneming adverteer en kliënte oor die hele Wes-Kaap word deur Mossie Begrafnisdienste bedien.
Hul leuse is nie verniet “Dienste met ‘n verskil” nie.
Mossie Begrafnisdienste verhuis vanaf 1 Junie na Dr Euvrardstraat 21.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*