Nuwe hoof opgewonde oor jeug

Nuwe hoof opgewonde oor jeug

Die Riebeekvallei Spesiale Skool op Riebeek-Wes spog met ‘n splinternuwe skoolhoof, Ricardo Rickett.
Rickett is karookind in murg en been en is gebore op Fraserburg. Hier het hy die Malherbe Human Laerskool bygewoon tot graad 9 en sy hoërskoolloopbaan op Beaufort-Wes by die Bastiaanse Sekondêre Skool voltooi.
Rickett het nog altyd daarvan gedroom om regte te studeer, maar het op die ou end besluit op onderwys en het aan die Bellville Onderwys Kollege vanaf 1992 studeer.
Net ná afloop van sy derde jaar, het hy ‘n onderwyspos by die Roggeveld Primêr in Sutherland aanvaar.
Hy het later sy HOD voltooi aan die Universiteit van die Wes-Kaap, met tegnologie as hoofvak.
Die studeergogga het hom weer in 2014 gebyt toe hy besluit het om sy honneursgraad in onderwysbestuur te voltooi. Hy het hier sy graad van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie ontvang.
Rickett kom vanuit ‘n onderwysfamilie waar sy pa self skoolgehou het en ook skoolhoof was.
Vandag is hy glad nie spyt dat hy hierdie roeping gevolg het nie, “want ek geniet wat ek doen en is lief daarvoor om met kinders te werk”.
Rickett was voorheen verbonde aan die Aliwal-Noord Tegniese Oriëntering Skool in die Oos-Kaap en het in 1997 na die Wes-Kaap verhuis en ‘n pos by die Eersterivier Sekondêre Skool aanvaar.
Daarna het hy op Tulbagh skoolgehou en het daarna ‘n houtwerkpos aanvaar by Steinthal Vaardigheidskool, waar hy tot 2011 betrokke was. Hier was hy ook ‘n Kurrikulum Adviseur vir Tegnologie in die Kaapse Wynland-distrik.
Hy is bevorder tot departementshoof by die Riebeekvallei Spesiale Skool, is verder bevorder tot adjunkhoof en is nou aangestel as hoof.
Rickett is baie opgewonde oor die onderwys en die jeug.
“Onderwys bied die geleentheid om met mense, en veral kinders te werk. Dit is vir my ‘n passie om te sien hoe leerders groei en ontwikkel. Dit is veral aangenaam om te weet dat jy as opvoeder deel is van daardie groeiproses. Die kinders by ons skool kom uit verskillende agtergronde en kulture en dis ‘n groot voorreg om in ‘n posisie te wees om ‘n verskil in jong mense se lewens te maak. Nie net akademies nie, maar ook kultureel en sportgewys. Ek self is ‘n rugby afrigter en deur skolesport het ek al die hele land deurgereis. Dis die geleenthede wat onderwys jou bied wat dit elke dag die moeite werd maak om op te staan en te gaan werk.”
“Die skool se visie is om ‘n skool van uitnemendheid te wees. Ek wil dit nie net nastreef nie, maar dit laat realiseer. Ek wil dit my missie maak om ‘n gelukkige, maar hardwerkende en gemotiveerde personeel en leerderkorps rondom my te hê. My groot doelwit sal altyd wees om kwaliteit onderwys en opleiding te gee aan elke kind binne die skool. Baie leerders bereik reeds groot sukses, maar dis nie altyd genoeg nie. Werksgeleenthede en verdere studie moet die fokus wees na skool, en daarom is aksieplanne nodig om dit te verwesenlik en volhoubaar te maak. Ons bied beroepsgerigte vakke aan en deel van my visie is dat die skool saam met die veranderde tegnologie beweeg, soos van toepassing op die industrie daar buite. Personeel bemagtiging is ook vir my belangrik en daarom spoor ek opvoeders aan om beroepsgerigte kursusse by te woon en uit te reik na ander skole vir die deel van gesonde praktyke en die uitruil van kennis. Ek kan nie wag dat sport in sy totaliteit terugkeer skole toe nie. Die skool het ‘n sterk sportbasis en my plan is om my volle gewig saam met die personeel in te span om leerders weer terug te kry op die sportveld. Verbeteringe aan en uitbreiding van die skool se fasiliteite en geriewe is ook ‘n prioriteit en geniet tans aandag.”
Rickett is ‘n pa van twee spruite en ‘n toegewyde familieman.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*