Nuwe rokkie vir Hopefield se historiese stasie

Nuwe rokkie vir Hopefield se historiese stasie

• Madi Pieterse
HOPEFIELD – So kort voor die aanbreek van die Kersseisoen het vrywillige inwoners van Hopefield saamgespan om hulle stasie ’n ‘total make-over’ te gee.

Die voorvatter vir hierdie enorme taak was Lizelle Strydom, bestuurder van Hopefield Museum en jarelange inwoner van dié dorp (Lizelle doen die werk as bestuurder van die museum vrywillig en ontvang geen befondsing vir die oophou van die museum vanuit die streek nie. Sy het dit wel reggekry om ’n Eksterne Publieke Werke-kontrak met Moorreesburg Koringmuseum te bewerkstellig om iemand voltyds by die museum aan te stel).

Elkeen wat kon, het ’n bydrae gemaak, hetsy help skoonmaak en restoureer, eet- en drinkgoed verskaf aan die vrywilligers of deur skenkings van verf en skuurpapier en alles wat nodig was dat die werk gedoen kon word.
Ongelukkig het die stasie met tyd ’n uithangplek vir leeglêers geword. Higiëniese toestande was haglik, die strukture is verniel en plantegroei het oorgeneem – ’n seer oog en groot hartseer vir inwoners oor wat eens was.
Lizelle het maandelank met Transnet gekorrespondeer nadat plaaslike besigheidsmense aangedui het dat hulle die gebou wil koop of huur om ’n besigheid daarvandaan te bedryf. Selfs die plaaslike raadslid, Miranda Schrader, het probeer, ongelukkig sonder sukses. Selfs ’n afgevaardigde van die Gemeenskapspolisiëringsforum en voorsitter van die buurtwag kon geen hond haar-af maak nie.

Dit is in hierdie stadium dat inwoners besluit het om eienaarskap te neem en self skoon te maak. Sosiale media se werkinge is ingespan en vrywilligers maak hulself beskikbaar en verfdonasies kan opgelaai word.
Die eerste dag se werk was die moeilikste. Die stank van die gemors binne die gebou was byna onuithoudbaar, maar manne met mae van staal het deurgedruk en sowat vyf ure later is sakke en sakke gemors deur een van die besigheidsmanne van die dorp weggery. Die binnekant lyk sommer heel anders.

Dag twee se werk het behels om bosse en onkruid buite-om te verwyder. Weer ’n groot taak, maar met die hulp van ’n bossiesnyer, ’n trekker en bossieslaner word die taak aansienlik makliker. Een van die helpers is ’n 67-jarige inwoner wat nostalgies vertel hoe hy as jong man saam met vriende en familie die trein gehaal het by Koperfontein en gery het tot op Hopefield om inkopies te gaan doen.

Vrywilligers van Hopefarm spuit die naambord skoon met ’n hoëdrukspuit en begin sommer om die geboue ook skoon te spuit.
Maar die werk was vêr van klaar.
Nadat die gras en onkruid weggery is, lyk die perseel stukke beter.
Die afskuur van die gebou word gedoen met skrapers en skuurpapier en wat ookal vir die taak ingespan kan word. Een van die vrywilligers is ’n inwoner van 77 jaar oud, wat ook ’n bydrae wil lewer.

Die naambord by die stasie is ouer as 60 jaar en spog met ’n unieke stukkie geskiedenis. Dit dui die hoogte bo seevlak aan as 138 voet en die afstand Kaapstad toe as 87 myl. Al hierdie inligting word bewaar en mooi gemaak sodat die jonger geslag nog vir jare daarna sal kan kyk.

Die Vrydagmiddag van die eerste week se werk kry die projekspan ondersteuning uit ’n onverwagse oord. Transnet se streekshoof oor eiendomme, Phillip Zondo, maak kontak en daag later by die perseel op.
Hy is verstom oor wat die inwoners binne ’n paar dae reggekry het en bied terstond hulp en ondersteuning aan. ’n Werkspan van Transnet daag Maandag op om hand by te sit, ’n sekuriteitsbeampte word gereël en die verf wat benodig word, word deur die loop van die week afgelewer.
Tussen al die gesprekke deur word daar ook gevra vir ’n ou stoomtrein en eetwa om op die sylyn getrek te word as besienswaardigheid. Die aansoek hiervoor is per e-pos aan hom gestuur.

Phillip het sy eie stukkie nuus oor die gebou. Met die ontvangs van die eerste e-pos maande gelede is die besluit geneem om die gebou te sloop. Genadiglik het iemand by Transnet besef dat dit ’n erfenisgebou is en kon die besluit nie uitgevoer word nie. By die Hopefield Museum pronk foto`s van 1901 van die stasiegebou en die oorspronklike toestand daarvan, ’n bewys van die gebou se erfenisstatus.

Die werk wat elke dag by die stasie gedoen is, was op sosiale media gedeel en mense van heinde en vêr het kommentaar gelewer op die groot taak wat verrig word. Dit was juis een van hierdie kommentare wat aangedui het dat die “stasie ’n nuwe rokkie kry”.

’n Elektrisiën van Transnet het reeds die elektrisiteit herstel en alle ‘ogies is terug in hulle rame’.

Die suksesvolle transformasie van Hopefield se stasie kan nie aan een persoon toegeken word nie. Dit was voorwaar ’n poging deur die mense van die dorp, oud en jonk, man en vrou asook besigheidsmense wat gewys het dat hulle nie bang is om saam eb hard te werk nie.

Daar moet nog bietjie water in die see loop vir alles om gefinaliseer te word, maar dit blyk dat Hopefield Stasie se “nuwe rokkie” nie té vêr van klaar is nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*