Nuwe struktuur, direksie en pad vorentoe vir Swartland Toerisme

Nuwe struktuur, direksie en pad vorentoe vir Swartland Toerisme

Die Swartland Toerisme is besig om ‘n gedaanteverwisseling te ondergaan, ná dié organisasie deur ‘n lang herstruktureringsproses gegaan het.
Die proses is nou amper voltooi.
Vanaf 2020 het die organisasie eers met behulp van konsultante oor sekere struktuurveranderinge besin en besluite geneem.
‘n Loodskomitee is saamgestel om die proses van die omskakeling van die huidige na die nuwe struktuur te stroomlyn en te bespoedig.
Die Swartland Toerisme sal vanaf 1 Junie 2022 voortgaan met hul take as ‘n Nie-Winsgewende-Maatskappy.
Hiervoor moes ‘n grondwet opgestel word waar hul aktiwiteite en die omstandighede van die organisasie uiteengesit is.
Die organisasie sal dus dan onder die bepalings van die Maarskappyewet val.
Hiervolgens sal direkteure verkies word wat dan aan sekere kriteria sal moet voldoen. Hierdie persone sal die lede op die direksie verteenwoordig.
Die direksie sal uit ‘n minimum van vyf lede bestaan.
Die personeelstruktuur het ook verander.
Die personeel sal voortaan uit ‘n toerismebestuurder bestaan, wat die verantwoordelike beampte vir die hele onderneming in al sy fasette en valkke sal wees en sal op Malmesbury gesetel wees.
Die res van die personeel sal uit ‘n verdere drie toerismebeamptes bestaan wat op Riebeek, Darling en Yzerfontein gesetel sal wees en die kantore daar sal beman.
Daar sal ook ‘n kantoorbeampte op Malmesbury aangestel word.
Soos in die verlede, bly die Swartland Munisipaliteit die hoofbefondser van die Swartland Toerisme. Daar is ook ‘n Diensvlakooreenkoms tussen Swartland Toerisme en Swartland Munisipaliteit in plek.
Alle fondse sal sentraal bestuur en beheer word en die verskillende dorpse sal aansoek kan doen vir befondsing van verdienstelike projekte.
Ledegelde sal by die Swartland Toerisme betaal word en sal geoormerk wees vir die uitsluitlike gebruik van elke dorp.
Na afloop van inligtingsvergaderings op die verskillende dorpe, sal ‘n spesiale vergadering gehou word waar die direksie van die nuwe struktuur verkies sal word.
Die pos van Toerismebestuurder sal ook eersdaags geadverteer word.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*