‘Ons kan doen met son’

‘Ons kan doen met son’

“Ons is nie ondankbaar nie. Glad nie. Maar ons kan doen met ‘n paar dae se sonskyn.”
So sê Truter de Kock, voorsitter van die Malmesbury-landbouvereeniging.
Volgens De Kock is dit die afgelope paar jaar nat in die omgewing, maar het Malmesbury lanklaas soveel reën op een slag ontvang soos vanjaar in Junie en Julie.
Volgens hom is daar tussen 112 en 152mm reën gemeet.
“Toe ons klein was, was ons gewoond aan so baie reën.”
Aldus De Kock sal landbouers nou kan doen met ‘n bietjie sonskyn-weer, aangesien hulle bo-bemesting moet saai en dat hulle nou sukkel om in die lande te kom weens die nattigheid.
“Die nuwe manier van plant, waar ons nie die grond so los hoef te maak nie, sal ons vinniger kan inkom. Maar, ons moet spuit en kunsmis saai. Ons is beslis nie ondankbaar nie, maar die bietjie son sal ons goed doen.
“Die reën is baie goed vir die wingerdboere wat damme het en ook vir die ondergrondse vog.”
Ten opsigte van die koring, is die grond vlak en sal dit maklik versuip as die water te veel op die land is. Die suurstof word uit die grond gedruk van te veel reën. Jy as mens kan vir ‘n dag sonder water wees, maar as jy kop onder water gedruk word, sal jy verdrink. Dieselfde gebeur met die koring.
“Jy begin ook geel kolle te kry wat ‘n oesverlies tot gevolg het,” verduidelik De Kock.
Die damme in die voorsieningsnetwerk van die Wes-Kaap was Maandag 89.2% vol.
Dit is ‘n styging van 13.8%.
Die Bergrivierdam was Maandag 101.3% vol in vergelyking met verlede week se 89.7% en 2017, wanneer die Wes-Kaap gebukkend onder ‘n droogte gegaan het, se 36.9%.
Die Laer-Steenbras was Maandag 76.3% vol. Verlede week was die dam 61.6% vol en in 2017 29.3%.
Die Theewaterskloofdam was Maandag 95.8% vol. Die vorige week was die dam 79.7% vol en in 2017 19.6%.
Die Voëlvleidam, die Swartland se enigste bron van water, was Maandag 67.8% vol, waar dit verlede week 61.8% vol was en in 2017 20.1%.
Die reënvalsyfers het die afgelope twee weke merkwaardig gestyg.
In die Theewaterskool-opvangsgebied is daar op 29 Junie 29mm, op 30 Junie 30.5mm en op 1 Jule 10mm gemeet. Op 4 Julie is 16mm neerslag aangeteken. Dit bring ‘n totaal van 56.5 in vergelyking met die langtermynneerslag van 74.2mm.
In die Voëlvlei-gebied is 60mm gemeet, in vergelyking met die langtermynneerslag-gemiddeld van 101.1mm.
Bron: www.capetown.gov.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*