Ontmoet Wes-Kaap se Jongboere-finaliste

Ontmoet Wes-Kaap se Jongboere-finaliste

Jo-andra Cloete Greegory (34)
Alleen-eienaar: Our Poultry Place, Joostenbergvlakte. Hoenderboerdery.
Jo-andra het die besigheid in 2016 sonder enige lenings of toelaes met 100 hoenders in ‘n informele nedersetting begin. Vandag huur sy vyf hektaar grond en verskaf Our Poultry Place 10 000 dagoud kuikens per maand aan opkomende produsente.
Sy sê haar visie is om die voorkeur pluimveeplaas te wees waar alle benodigdhede onder een dak is: van dagoud kuikens tot voer, medisyne en toerusting. Om haar insetkoste te beperk en die omgewing te beskerm, gebruik sy herwinbare materiaal.

Alexander Gibson (31)
Boer op Doornkraal Agri – Witzenberg Vallei, Ceres
Alexander boer die afgelope 10 jaar met 300 ha appels en 110 ha pere en sê hy sal graag vertakkings wil byvoeg om sy risiko te versprei. Die plaas verkoel, verpak en bemark al die vrugte self en volgens Alexander is dit ‘n groot voordeel omdat die produk in hulle hande bly. Hy probeer ook altyd op hoogte van die nuutste en beste praktyke in die bedryf bly en wil graag ‘n groener benadering begin volg, soos om sonstelsels aan te bring en meer aandag aan herwinning te gee.

Derec Giles (38)
Boer op Dwarsfontein, Uniondale.
Derec boer al 20 jaar met groentesaad, volstruise en skape en het ook ‘n vleisbeesvertakking met kruiskoeie wat hy met Sussex-bulle dek. Hy sê sy visie is om elke vertakking optimaal binne goeie bestuur- en bewaringspraktyke te bedryf.
Hoewel die voortslepende droogte in die gebied ‘n impak op sy boerdery het, fokus hy op beter waterbenutting en beter keuses op weidingsaanplantings om die droogtetoestande te bestuur. “Ek moes al baie planne maak om te oorleef en kompeterend te bly, maar ek bly optimisties oor die toekoms. Ek is ‘n aanhouer en hardwerkend wat graag my kennis deel en help waar ek kan,” sê hy.

Floris Steenkamp (38)
Boer op Kromfontein, Koue Bokkeveld
Floris boer al vir 19 jaar en is die afgelope sewe jaar die produksiebestuurder op Kromfontein waar appels en pere verbou word. Hy het in 2006 ook sy eie grond by Sutherland gekoop waar hy met basterooie boer.
“Daar is twee goed wat ek verstaan, dit is ‘n vrugteboom en ‘n skaap. Altwee praat met my en ek verstaan hulle,” sê dié bestuurslid van Bewaringslandbou Wes-Kaap. Sy visie vir die toekom is juis om bewaringslandbou as deel van ‘n holistiese, volhoubare en winsgewende boerdery-opset tot voordeel van hul werkers, die natuur en sy gesin te bedryf. “Alle take wat ek aanpak, probeer ek op die regte tyd, met die regte hulpbron op die regte manier te doen,” sê Floris, wat ook lid van die Koue Bokkeveld Veiligheidsgroep is.

Kleinjan Teubes (30)
Boer op Versig, Vredendal
Kleinjan is al vir 11 jaar bedrywig met droogdruiwe, wyndruiwe, groente en steenvrugte en is hoofbestuurder van die plaas. In 2017 het hy ook twee hektaar nektariens aangeplant wat tans baie positief lyk.
Die droogte in die Matzikama-distrik het ook ‘n impak, maar Kleinjan sê hy gaan alles wat hy in die droogte geleer het, verder toepas. “Ek soek altyd geleenthede waarop ons kan kapitaliseer, soos die grond wat ek in die droogte gekoop het en wat homself ‘n jaar later betaal. As jy die keuse maak om suksesvol te wees, moet jy die wil hê om dinge te maak werk,” sê hy.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*