Op die sakerusbank met…Stephan Karolus

Op die sakerusbank met…Stephan Karolus

Swartland Joernaal se Abri Adonis, het besluit om ‘n reeks te begin waar hy met inwoners gesels wat ‘n verandering in hul lewe aangebring het as gevolg van die Covid19-pandemie. Hy gesels hierdie week met die eienaars van Moorreesburg Investments Upholstery Cleaning Services, wat lewe gekry het weens die inperking.

Die meeste mense word nie groot met die gedagte om eendag ‘n entrepreneur te word nie, hulle word dit net.
‘n Natuurlike entrepreneur aanvaar nie “nee” vir ’n antwoord nie en verloor nooit moed nie.
Hulle is op hul gemak met uitdagings en sal alles moontlik doen om bo uit te kom.
In ons eerste weergawe van “Op die Besigheidsrusbank met Abri Adonis” gesels ons met Stephan Karolus, een van die meesterbreine agter die stigting van Moorreesburg Investments Upholstery Cleaning Services.
V. Wie is die vennote in die besigheid?
A. Stephan Karolus , Riaan Krotz , Nazli Atkins en Anthony Jacobs.
V. Wat het julle motiveer om hierdie besigheid te begin?
A. Werkloosheid het ingesluip tussen ons vriende en dis toe dat ons besluit het om ons eie besigheid op die been te bring. Twee van ons was werkloos en een het “short time” gewerk. Die lockdown het ‘n groot impak gehad op ons lewens en ons moes ‘n plan beraam.
V. Vertel ons bietjie meer van die besigheid?
A. Upholstery Cleaning sluit in die skoonmaak van matte, rusbanke, matrasse en voertuigsitplekke. Volgens ons is dit ‘n diens wat almal in die gemeenskap sal kan benut.
V. Wat is julle doelwitte en wat beoog julle om te bereik met die besigheid?
A. Ons wil graag die werkloosheidsyfer van Moorreesburg help verlaag en sodoende die jeug motiveer om na beter te streef en ook om mense te laat besef dat niks onmoontlik is nie.
V. Wat dink jy is die grootste uitdagings vir jong entrepreneurs om hul besigheid te begin, veral in vandag se moeilike ekonomiese toestande?
A. Befondsing is die grootste uitdaging. Ons moes ons eie fondse in die besigheid stoot wat n groot risiko is. Die gebrek aan rolmodelle in die entrepreneursektor in ons gemeenskap is ook ‘n groot uitdaging.
V. Hoe sal jy julle ondersteuningkorps beskryf aangaande jul besigheid?
A. Dit was verskriklik moeilik aan die begin, want ons moes gelde uit die huis vat om dinge op dreef te kry en dit in die tyd van werkloosheid. Ons familie en vriende ondersteun ons heelhartig veral noudat hulle die groter prentjie sien.
V. Watter raad het jy / julle vir ander potensiële entrepeneurs, besigheidsmanne/vroue?
A. Selfvertroue is belangrik en al klink iets hoe onmoontlik , met God aan jou sy, is enigiets moontlik!

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*