Oupa se belofte aan Dewald bring hoop

Oupa se belofte aan Dewald bring hoop

Leonie, Dewald, Wynand en Ferdi Vermeulen (agter) hoop op ‘n nuwe toekoms vir Dewald deur middel van stamselbehandeling.

Ek het hom belowe dat ek nie my laaste asem sal uitblaas, voor ek nie alles probeer het om vir hom ‘n beter lewe te gee nie.
So sê Wynand Vermeulen, oupa van Dewald Vermeulen van Malmesbury.
Dewald is as outisties gediagnoseer, maar ly ook aan serebrale paulsie en het tot onlangs epileptiese-episodes ervaar.
Die Vermeulen-huishouding is ‘n gelukkige en opgewekte een.
Dewald, wat bedags deur ouma Leonie en oupa Wynand versorg word, se persoonlikheid vul die hele huis.
Ek hoor hom skaterlag vanaf die voordeur.
Dewald (13) is ‘n lang, blondekop seun, met yslike hande en voete en ‘n vriendelike glimlag.
“Hy is so ‘n ligstraaltjie. Hy is ons hele lewe,” vertel Leonie.
Dewald is in 2008 op Malmesbury gebore.
As baba het die nie geblyk dat iets met hom skort nie, maar toe hy nie sy mylpale haal nie, het daar gevaarliggies vir sy ouers en grootouers afgegaan.
Dewald het nog nooit geloop nie, ook nie gekruip nie, en tot vandag het hy nog nie gepraat nie.
Hy kom oor die weg deur van sy sterk arms gebruik te maak om te skuifel vanaf een punt in die huis na die volgende, sy bene gekruis onder hom.
Maar met daardie arms is hy blitsvinnig uit die vertrek as hy vir pa Ferdi wink dat dit tyd is om te gaan bad.
Die Vermeulens het reeds by talle pediaters en spesialiste aangeklop vir raad en hulp, maar met min antwoorde teruggekeer huis toe.
‘n Mediese verslag dui dat toetse en breinskanderings nie kan bepaal wat fout is nie.
Dewald slaap saans op ‘n groot en gemaklike matras voor die televisie en onder die lugversorger – hy kan moontlik van ‘n bed afrol en homself beseer. Ouma Leonie slaap agter sy blad, met Oupa Wynand wat ‘n matras nader sleep, net om “by my vrou te kan slaap”.
Hulle hou Dewald met ‘n valkoog dop en versorg hom met groot liefde en deernis, terwyl die ander familielede skoolgaan of gaan werk om die Vermeulens se besigheid in die Paarl te laat floreer.
“Ek wil net graag vir ‘n naweek my vrou see toe neem, maar ons kan nie sonder Dewald nie. Hy is ons nommer een prioriteit.”
Dewald het onlangs epileptiese aanvalle ervaar, maar met medikasie is dit onder beheer.
Sy gunsteling TV-program is – nuus vanuit Afrika en die grapjas Mr Bean van Rowan Atkinson. Soms jaag hy sy oupa rond en knyp hom as hy met hom speel.
“Ja, kyk net hier. Hier het die outjie my beetgekry,” lag Wynand.
Dewald het tot ‘n paar jaar gelede niemand direk in die oë gekyk nie.
“Ek het eendag met hom gespeel, sy handjies in myne gesit en hom gevra om na my te kyk. Hy het sy kop opgelig en my stip aangestaar. Van toe af kyk hy vir jou direk en vol in die oë,” vertel Leonie.
Dewald is nog afhanklik van doeke, wat saam met mediese onkostes, ‘n groot finansiële druk op sy familie plaas.
Daar is egter ‘n ligpunt van hoop – stamselbehandeling.
Die Vermeulens het deur ‘n familielid van ‘n dokter te hore gekom wat stamselbehandeling doen en dadelik met die dokter kontak gemaak.
Vir hierdie behandeling benodig die familie sowat R120 000, wat opvolgbesoeke insluit, maar hulle is bereid om enigiets en alles te doen om hierdie behandeling vir Dewald te kan gee.
“Daar is hoop en ek het hom ‘n belofte gemaak en ek sal daarby hou. Ek sal nie gaan rus voor ek nie alles in my mag probeer het om sy lewe gemakliker te maak nie,” vertel oupa Wy-nand sag.
Die familie het onlangs ‘n fonsinsamelingsprojek van stapel gestuur om die geld in te samel, sodat Dewald so spoedig moontlik die behandeling kan ontvang.
“Alles wat ekstra in daardie fonds is, sal ek net so aan ‘n ander kind gee wat dit nodig het, want dit is nie ons sin nie. As ons weer iemand anders op so ‘n manier kan help, dan doen ons dit. Ek wil net vir Dewald help.”
Dewald se ouer broer, Keaton, wat wel ‘n kop korter is as hy, help vinnig om Dewald te skuif vanaf die rusbank na die matras.
Dewald het gaan lê na sy bad, sy arm uitgehou, sodat ouboet in sy arm kan kom lê en rus. Toe hy warm kry, moet Keaton vort en hy word sommer weggestoot met groot liefde.
Dewald kraai van die lag toe die gesin se skoothondjie besluit dit is nou tyd om op die sitkamerstel rond te spring.
“Daar moenie vir my gesê word hy verstaan nie, of hy kan nie deelneem aan dit wat rondom hom aangaan nie. Ek het hom al by die yskas gekry, waar hy besig is om melk uit die houer te drink. As hy my gewaar, kyk hy my stip in die oë en keer sommer die melkbottel om en lag. Hy kan lekker aspris wees as hy die dag lus het.”
Om na Dewald om te sien, is ‘n voldag-taak, maar die Vermeulens doen dit met groot liefde en deernis, terwyl hulle hul hoop plaas in die moontlikheid van verbetering met die stamselbehandeling.

  • Indien jy ‘n bydrae wil lewer, of navrae het, kontak Ferdi Vermeulen by 079 465 4741.
    Die bankbesonderhede is soos volg:
    FNB, Dewald Vermeulen, 62925118722 (rekeningnommer), 250057 (takkode).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*