Padlangs met die nuwe Nissan Magnite

Padlangs met die nuwe Nissan Magnite

Hulle sê dinamiet kom in klein pakkies. Wie hulle is, weet ek nie, maar hulle is reg.
Dinamiet kom in die pakkie met ‘n kenteken van die nuwe Nissan Magnite op.
Ons het die voorreg gehad om hierdie splinternuwe toevoeging tot die Nissan-stal te toetsbestuur en hy het glad nie teleurgestel nie. Inteendeel…daar wag dalk ‘n koopkontrak op die tafel van die handelaar.
Die Nissan Magnite is ‘n kleiner weergawe van ‘n nutsmotor, toegerus met die nuutste en beste tegnologie en ‘n enjin onder die kap wat soos ‘n opgewonde kind sit en wag om uit te kom en te kom speel.
Hierdie buksie is een van die gerieflikste bestuurservaringe wat die uwe nog beleef het.
Met meer as genoeg spasie aan die binnekant vir diegene wat geseën is met lang bene, spasie vir kinders in die agtersitruim, spasie vir almal se bagasie in die kattebak en armspasie vir die bestuurder, sodat jy nie ongemaklik sit en wonder waar jy jou arms moet vasdruk nie.
Gerieflik, gemaklik en tog bekend, want jy weet dit is ‘n Nissan waarmee jy ry, die oomblik as jou agterent die sitplek raak.
Gerieflik in die dorp, maar ook op die langpad. Veral op die langpad, want dan het jy kans om die kind onder die enjinkap ‘n bietjie uit te laat om te kom speel.
Ons het ‘n outomatiese weergawe toetsbestuur, en al het jy nie beheer oor die ratkas nie, is dit asof die Magnite jou gedagtes lees deur middel van jou petrol-voet.
As jy hom neersit, dan is die Magnite reg vir aksie. Om ‘n voertuig verby te steek, is gerieflik, gemaklik en veilig, want jy weet jy het genoeg krag om dit te doen.
Die oorskakeling van die outomatiese ratte is glad, so jy voel nie eens ‘n bietjie gepluk soos die ratkas van rat verander nie.
Een van die groot lekkertes is die aanskakelaar-knoppie wat aan die linkerkant op die paneelhouer sit. As jy gewoond is aan ‘n sleutel, wonder jy aanvanklik ‘n bietjie wat jy nou eintlik met die sleutel moet doen, maar jy kan hom net eenvoudig neersit en die knoppie druk en die enjin begin brul van opgewondenheid.
Op die skermkontrole is jy ook heeltyd deeglik bewus van jou rit. Hoe ver, hoe ver jy nog kan bestuur voor jy die petroltenk moet volmaak, hoe ekonomies jy bestuur, jou petrolverbruik en selfs of jou bande se drukking nog voldoende is. Hierdie Magnite is daar om jou veilig te hou.
Die kilometers rol verby, so gemaklik, so vinnig en so gerieflik.
Een ding wat wel uitstaan, is die unieke en stylvolle sierrooster. Dit laat die Magnite lyk soos ‘n klein monstertjie wat reg is om die kilometers op te vreet. Jy voel veilig, jy voel gemaklik en dit voel net reg.
Die stuurwiel is multi-funksioneel en jy kan alles van hier beheer. So jou aandag word nooit afgetrek nie. Veiligheid eerste met die Nissan Magnite.
Hierdie buksie is beslis een wat jy moet gaan toetsbestuur. Jy sal nie spyt wees nie.
Ek is wel spyt dat ek hom moes teruggee!
Kontak JB’s Nissan vandag vir jou toetsrit!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*