Persoonlike herwinning: Maak dit regtig ‘n verskil?

Persoonlike herwinning: Maak dit regtig ‘n verskil?

Anna-Bet Stemmet
As jy een van die groeiende groep Swartland inwoners is wat kies om tuis te herwin, mag jy dalk al gewonder het of jou pogings enigsins ‘n verskil maak. Dit kan tog soms voel asof die klein gebaar wat jy en jou gesin in die verband maak nie regtig veel beteken nie.
Die goeie nuus is dat dit beslis ‘n verskil maak!
Malmesbury-inwoner Helena Sheridan is ‘n stigterslid van albei Fanplastiek, ‘n opwindende inisiatief wat ten doel het om oorskot-plastiek te herskep in gebruiksartikels en kuns; sowel as Platform, ‘n geregistreerde nie-winsgewende onderneming wat projekte ondersteun wat die bewaring van die natuurlike wêreld bevorder en ter selfde tyd plaaslike gemeenskappe ontwikkel.
“Daar is ‘n tendens in die media wat afvra hoekom ons as individue die moeite moet doen om te herwin as dit eintlik die groot korporasies is wat die meeste gemors maak en die omgewing besoedel. Studies toon egter dat ons binne die volgende vyf jaar die impak gaan begin sien van inisiatiewe wat reeds in plek gesit is sedert dit aan die lig gekom het dat die planeet in gedrang is.,” vertel Helena wat onlangs die geleentheid gehad het om onlangs deel te wees van die Design Science Studio wat virtueel aangebied deur die Buckminster Fuller Institute.
“As ons nou die regte besluite maak kan ons die ding nog omdraai. As wetenskaplikes, ontwerpers, kunstenaars en alledaagse mense almal saamspan om dinge te laat verander kan ons enorme verandering te weeg bring – ons het al die hulpbronne en kennis tot ons beskikking. Ons moet net dit gebruik!”
So waar begin jy?
“Klein, plaaslike besighede soos Malmesbury Recycling maak dit vir ons almal moontlik om ons deel op ‘n baie gerieflike en eenvoudige manier sommerso van die huis af te doen. Melani Cullum en haar span neem enige skoon herwinbare afval, en dit hoef nie noodwendig gesorteer te wees nie, want hulle het ‘n sorteringspan wat dit by hul perseel behartig,” vertel Helena.
Die besigheid bestaan al sedert 2018, en dien ʼn verskeidenheid besighede en huisgesinne in en om die dorp. Jy versamel jou herwinbare afval tuis, hulle kom laai dit op, sorteer dit en maak seker dit word in die regte kanale gestuur vir herwinning.
“Al wat dit eintlik verg is om ‘n oomblik te neem voor jy ‘n item in die drom gooi om te besin of dit herwinbaar is of nie, en dit eenkant te sit indien wel. Sodra jou herwinning dan aansienlik is (twee swartsakke vol of meer), laat weet jy ons, en my span kom laai dit gratis en verniet by jou huis op. Ons neem ook met graagte ander ongebruikte artikels wat ons onder minderbevoorregtes versprei,” vertel Melani.
Karin Smit van Cherry Lane vertel dat hulle alreeds 4 jaar hul besigheid se herwinning deur Malmesbury Recyling laat doen. “As ‘n besigheid kies ons om te herwin sodat ons kan bydra daartoe om die planeet te beskerm, en ‘n gelukkige en gesonde omgewing te skep waarin ons kinders en kleinkinders kan floreer. Melani en haar span bied skoon, netjies en professionele diens; ek kan hulle ten sterkste aanbeveel,” se Karin.
Tree in kontak met Malmesbury Recycling deur Melani Cullum te skakel of ‘n WhatsApp-boodskap te stuur na 074 173 9469. Of besoek hul Facebook-blad by www.facebook.com/malmesburyrecycling vir nadere besonderhede.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*