Petersen bou ‘n storm los

Petersen bou ‘n storm los

Irish-Lee Petersen (bo) kan ‘n hele paar manne ‘n ding of twee leer wanneer dit kom by bou.
Op 32 jarige ouderdom het sy al genoeg huise gebou om ‘n klein dorpie te huisves.
Sy vertel dat sy reeds vanaf haar tienerjare geen belangstelling getoon het in die konvensionele dinge wat jong meisies interessant vind nie.
Haar hande was gedurig vuil weens twee werke, een by ‘n paneelklopper en die ander by ‘n motorwerktuigkundige, wat sy moes balanseer.
Sy noem ook opgewonde, en met pragtige gemanikuurde naels, dat dit haar geweldige genot verskaf om haar hande vuil te maak.
Ek is skoon stom geslaan deur hierdie pragtige jong vrou, wat al vir die afgelope 15 jaar haar weg baan, in verskeie velde wat grotendeels deur mans oorheers word.
In 2012 begin sy by Transnet werk as deel van ‘n groep wat fokus op die bou van brûe.
Sy het ‘n oorpak en stewels gedra en was die enigste vrou.
Haar toewyding en passie het mettertyd daartoe gelei dat sy in beheer was van ‘n span wat uit ‘n 100 mans bestaan het.
Dit was egter in 2017, na ‘n projek in Hopetown en die feit dat sy vir ‘n jaar weg was van haar man en kinders, dat sy besluit het om haar eie koers in te slaan.
Sy het haar besigheid, MLI Trading Projects, in 2018 op die been gebring.
Irish-Lee noem dat dit harde werk en uithouvermoë gekos het.
Alle sertifikate moes eers in plek wees voordat sy fisies kon begin bou.
Maar dit het nie lank gevat nie, en in dieselfde jaar het sy haar eerste huis in Yzerfontein gebou. Vanaf daardie oomblik het sy nog nooit weer teruggekyk nie.
Binnekort pak sy haar tasse om ‘n groot projek op die plaas Mziwoxolo in Laingsburg te oorsien.
Dit behels die omskepping van die plaas in ‘n oasis wat stap roetes asook oornagfasiliteite vir toeriste en motorfietsklubs sal insluit.
Haar entoesiasme is aansteeklik en sy vertel gretig hoe hierdie projek werkskepping aan die gemeenskap daar sal voorsien.
Die mikpunt is natuurlik om dit met tyd ‘n self volhoubare fasiliteit te maak.
‘n Aansoek vir befondsing by SEFA is reeds deur haar vennote geloods en hulle hoop dat dit spoedig goedgekeur sal word.
Daar is egter ook ander projekte by die nabygeleë weermagbasis op die horison.
As voorbereiding hiervoor het sy onlangs haar sertifikaat verwerf om asbestos te verwyder.
Dit is duidelik dat haar voete nie gaan grondvat nie en dat sy inderdaad baie besig gaan wees.
En terwyl die passie en opgewondenheid vlak lê verskyn daar ‘n mistigheid in haar oë ten nadenke oor haar gesin.
Sy noem dat dit een van die grootste opofferings is wat sy as vrou moes maak.
Die lang periodes wat sy sonder haar man en kinders moet wees.
Haar dankbaarheid teenoor haar man en kinders is onmeetbaar. Nie net vir hul geduld nie, maar ook vir hul liefde.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*