PhD-student: Breingewasse stuit haar nie

PhD-student: Breingewasse stuit haar nie

Breingewasse op 14 en 17.
Operasie op operasie.
Uitdaging op uitdaging.
Niks kon haar keer nie en vandag pluk sy die vrugte van harde werk, uithouvermoë en die wil om die struikelblokke wat in haar pad was, te oorkom.
Dit is Amy Martin van Moorreesburg.
Die slimkop het onlangs haar doktorale graad in Antieke Studies aan die Universiteit van Stellenbosch behaal.
Amy, wat op Durbanville grootgeword het, woon die afgelope twee jaar op Moorreesburg saam met haar pa, Barry Martin.
Sy het besluit om haarself hier te vestig, terwyl sy haar graad voltooi het.
Sy het in die vertaling van antieke Grieks gespesialiseer.
Volgens Amy was sy nog altyd deur die antieke Mediterreense wêreld gefassineer. Iets wat sy met haar pa deel.
“Ek het besluit om voluit te gaan, want akademici het my sin vir wees terug gegee,” vertel Amy.
Sy is op die ouderdom van 14 vir die eerste keer met ‘n gewas gediagnoseer.
Toe weer op 17.
Op 15-jarige ouderdom het sy epileptiese aanvalle begin kry.
Haar eerste breinoperasie was om die gewas te verwyder, die tweede om neuro-elektrodes op haar brein te plaas om die patrone te monitor en om so vas te stel waar die epileptiese episodes vandaan kom en die laaste was om die tweede gewas te verwyder, maar ook die deel van die brein wat die epilepsie veroorsaak het.
“Die tweede gewas het op presies dieselfde plek net terug gegroei,” vertel Amy.
Amy het besef dat iets met haar gesondheid skort toe sy skielik nie meer haar linker arm kon beweeg nie. Sy het ook agtergekom dat sy sleeptong praat.
“Alles het toe verander. Na die operasies was daar baie swelling op my brein. Ek het gesukkel om te konsentreer en kon vir ure aaneen slaap. Ek het gesukkel met my balans en moes fisioterapie ontvang.
“Ek was geweldig bang dat die gewasse sou terug groei en dat die epilepsie sou terugkom. So, ek het myself van openbare plekke geïsoleer. Ek het in klas gesukkel, want ek het baie pyn ervaar en my konsentrasie was nie reg nie.”
Volgens Amy het haar gesondheidstoestand haar aanvanklik baie negatief beïnvloed, maar toe sy haar studies op universiteit begin, het hierdie donker wolk ‘n silwer randjie gekry.
“Toe ek by die universiteit aangekom het, het dinge verander. Ek kon dit waaroor ek passievol is, studeer. My nuwe vriende was nie bewus van my mediese geskiedenis nie. Ek het gevoel soos ‘n splinternuwe mens wat ‘n nuwe bladsy omgeslaan het.”
Vir Amy is haar grootste droom om soveel as moontlik van die wêreld te sien.
“Ek is gefassineerd deur tale en kulture en om te reis sal my die geleentheid gee om weer myself te ontdek en om aan te beweeg van my vorige grense. Ek wil ook graag as ‘n persoon en ‘n akademici groei. Ek word daagliks inspireer deur die studente wat my geleer het hoe gelukkig ek is. Elkeen op sy of haar eie manier. Daar is altyd ander wat groter uitdagings in die gesig staar. Ek glimlag as ek dink aan hulle vooruitgang en suksesse.”
Volgens haar is dit belangrik dat jy nie moet toelaat dat jou uitdagings jou definieer nie.
“Ja, dit sal jou lewe beïnvloed en sal altyd deel van jou reis wees, maar sien dit as ‘n sterkpunt en nie ‘n swakpunt nie, want dit is ‘n daaglikse herinnering aan die krag van die mens se gees wat binne ons almal is.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*