“Project Survival” vat vlam

“Project Survival” vat vlam

Op 6 November 2019 het die heel eerste Swartland Joernaal op straat verskyn. Min weet egter wat agter die skerms gebeur het en het maar net ‘n nuwe gesig op die rakke gesien.
Wel, in die groep van Swartland Joernaal, staan hierdie koerant eintlik bekend as “project survival”, so gedoop deur mede-direkteur, Darren Foot-Lombard.

Die meeste van die personeel van Swartland Joernaal het ‘n week tevore hul werk verloor en het noodgedwone en onder moeilike omstandighede ‘n plan beredder om ‘n toekoms vir hulself te verseker.
“Ons het nie ‘n keuse gehad nie. Ons het nie werk gehad nie en ons moes iets doen. So, na ‘n braai by die verspreider se huis, ‘n groot beplanningsessie en baie hoop, is Swartland Joernaal gebore,” vertel mede-direkteur Izélle Fouché.

Maar, alles het nie net glad verloop tot die Woensdag toe die koerant op straat was nie. Daar was eers onderhandelinge, wat op nommer 99, ‘n paar minute voor saktyd, deur die mat geval het. Skielik moes daar met ‘n nuwe naam, nuwe identiteit en nuwe mashoof opgekom word.
Daar is in die kantoor saamgespan, gedink, idees rondgegooi en so was Swartland Joernaal die naam wat vasgesteek het in almal se koppe.

Daar is voortgestoom om die koerant te finaliseer en na die drukkers te stuur. Ná die dolle week, het almal ‘n slaak van verligting gesluk, want om dit as stresvol te beskryf, is maar om ‘n doring soos ‘n stukkie watte te beskryf. “Ons het nie geslaap nie. Ons moes onsself heeltyd verduidelik aan lesers en kliënte. Ons moes verduidelik wie ons is, wie en wat die koerant is, waar ons vandaan kom, maar ons het dit gedoen. Dieselfde storie dag na dag vertel. Dit was verblydend en bemoedigend om te sien hoe lesers en adverteerders ons ondersteun het en ons verwelkom het,” vertel Fouché.
“Ons het ‘n groot sin van verantwoordelikheid teenoor ons span. Ons is eintlik almal wees- werknemers, want ons het almal met bagasie in die besigheid ingekom. Ons was almal onseker, want ons het nie geweet hoe ons hierdie ding gaan laat werk nie, maar ons het nie ‘n keuse gehad nie. Dit het ons saamgevoeg tot een ysterspan wat vir niks terugstaan nie,” sê Foot- Lombard.


Met ‘n span wat nie omgee om na-ure te werk nie, waar niks ooit onmoontlik is nie, waar alle nuwe moontlikhede probeer word, is dit ‘n plesier om weekliks ‘n koerant op straat te kry – aldus Fouché.
Gedurende die aanvanklike grendeltyd, het Swartland Joernaal besluit om sy deure tydelik te sluit, ter wille van die gesondheid en veiligheid van die personeel en publiek. “Dit was nie maklik nie. Ons het nie geweet wat om met onsself aan te vang nie, want ons was nie gewoond daaraan om nie besig te wees nie,” sê Foot-Lombard.

“Dis toe wat ons met nuwe idees en nuwe planne vorendag gekom het,” sê Fouché. Dit is juis in hierdie tyd wat Swartland Joernaal se moedermaatskappy, Swartland Media, begin vlerke kry het.
Swartland Media voorsien in alle bemarkingsmateriaal asook korporatiewe geskenke aan ondernemings.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*