R3.5mil vir baken

R3.5mil vir baken

Die voorheen International Hotel-perseel in Hoofstraat, Moorreesburg, is een van die statige ou geboue van die omgewing met ‘n skatkis van historiese geskiedenis en karakter. Dit wek goeie herinneringe op by sommige ouer Moorreesburgers.
Hierdie baken is nou in die mark vir R3.5 miljoen.
Die hotel is in die tydperk voor die tweede wêreld oorlog gebou toe baie Joodse gesinne hulle in Suid-Afrika kom vestig het. Gedurende daardie tyd, het die Joodse gemeenskap ‘n aansienlike bydrae gemaak tot die sake-ontwikkeling, veral in die platteland. Die hotel het oorspronklik aan die Joodse sakeman, Mnr. East behoort. Die East- gesin het twee kinders, Norman East en Saul East gehad. Albei van die kinders het op Moorreesburg skool gegaan. Die jonger East-geslag het nie belang gestel om die besigheid van hulle ouers oor te neem nie. Dit het daartoe gelei dat die hotel in die vroeg vyftiger jare verkoop is aan Sammy en Bertha Katz. Sammy was ‘n familielid van Jo Katz. Jo en sy vrou Pearl het die ander hotel op die dorp, in daardie jare bekend as die Royal Hotel bedryf.
Vervolg op 3
Nadat Ivan Katz, seun van Jo en Pearl, die bedryf van die Royal Hotel by sy ouers oorgeneem het, het hy dit herdoop na die Samoa Hotel en die naam is tot vandag nog in gebruik.
Terug na die International Hotel.
Reisigers wat by die hotel oorgebly het, het soms motorbestuurders gehad. Die motorbestuurders het in die annex tot die hoofgebou in die agterplaas oorgebly waar hulle hul eie ablusie geriewe en ruskamers gehad het. Hierdie strukture is steeds in bruikbare toestand in die agterplaas van die hotel gebou.
Daar was 6 motorhuise beskikbaar waarin reisigers hulle motors kon toesluit, plus ekstra oop parkering.
Afgesien van die reisigers wat in die hotel oornag het, het die plaaslike gemeenskap ook die hotel goed ondersteun. Die hotel was bekend vir lekker Sondag etes. Dit was ook die bymekaarkomplek van die manne na werk.
Saterdag oggende, wanneer die boere uit die distrik hulle werkers dorp toe gebring het, het sommige van hulle lekker saam gekuier in die hotel. Terwyl die manne in die kroeg mekaar opdateer het met die plaaslike nuus en gebeure, is daar selfs voorsiening gemaak vir die kinders. Hulle is in die sitkamer geakkommodeer waar die waar die kinders van die verskillende plase met mekaar kon saam kuier. Die kinders is getrakteer met koeldrank en skyfies, terwyl almal geduldig (en lekker gesellig) gewag het tot die werkers klaar is met hulle weeklikse inkopies in die dorp. Daarna het almal weer teruggekeer plaas toe…tot volgende week.
Ek het met oom SP De Greeff, een van die oudste inwoners van Moorreesburg gesels oor die ou dae van die International Hotel.
Oom SP se pa, Andrew De Greeff was ‘n skrynwerker. Toe Sammy en Bertha Katz die hotel oorgeneem het, het sy pa vir die hotel ‘n nuwe eetkamer tafel en stoele gemaak van akkerhout.
Volgens Oom SP, was Sammy en Bertha vir hom soos familie. Hy was nooit getroud nie en het bykans daagliks by die hotel geëet. Die hotel was bekend vir lekker kroegetes. Wanneer Oom SP verjaar het, het Bertha vir hom ‘n duur bottel whiskey gegee. Sy sou dan vir hom sê, “This is for you SP and not to share with others.”
Pikkie Coetzee en Jan Coetzee was die kroegmanne. Die kroeg was uniek weens die sirkelvormige uitleg van die kroegtoonbank. Die gaste het in ‘n kring om die toonbank gesit en bediening was van die binnekant van die sirkel af.
Daar is lekker gedans ook in die hotel. Oom SP vertel dat Andries Smit die musiek gespeel het met sy platespeler. Dit was ‘n houtvloer waarop gedans is. Die mense is gewaarsku om nie naby die platespeler te dans nie. Wanneer dit lekker gaan en die mense dans te naby die platespeler, het die beweging van die vloer die platespeler se naald laat hop. Dan sou Andries baie kwaai die dansers vermaan om weg te dans van die platespeler af.
Die rol van die plattelandse hotelle het grootliks verander met klemverskuiwing in toeriste voorkeure na gastehuise en restaurante met lisensies om alkohol te bedien. Baie van die ikoniese plattelandse hotelle het nie oorleef nie.
Die International Hotel is in 1995 verkoop aan die ACVV op Moorreesburg. Die ACVV het dit omskep in ‘n ouetehuis. Dit is tot vroeg in 2022 bedryf as ‘n ouetehuis, waartydens dit nie meer ekonomies volhoubaar was nie. Hierdie gebruik as ouetehuis gedurende die afgelope 27 jaar, het baie daartoe bygedra dat die geboue goed behoue gebly het en nou gereed is vir ‘n volgende gebruik doel.
• Cobus van der Merwe
083 440 5172 Skrywer en verkoopsagent
Besoek ook Ontdek Moorrees op FB.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*